JOHANNES 11:1-415(2020-vertaling)

Die Christelike Jaar is in die vyfde week van Lydenstyd, kort voor Groot Lydensweek waarin ons Jesus se kruisiging op Goeie Vrydag sal herdenk en sy opstanding sal vier met Paasfees. Revised Common Lectionary (RCL) stel ons dié week voor aan ’n vierde persoon wie se lewe Jesus aanraak. Nikodemus moes leer wat dit beteken om van bo af gebore te word (3:3), die Samaritaanse vrou het ontdek Jesus het die water van die lewe om haar dors vir ewig te les (4:13-14) en die man wat blind gebore was, se geestelike oë is geopen sodat hy Jesus gesien en herken het as die Seun van die Mens; in Hom geglo het (9:35-38). In Johannes 11:1 word Jesus na Betanië ontbied waar ’n man met die naam Lasarus, siek was. Toe Jesus uiteindelik by Lasarus opdaag, sou Hy van Martha hoor: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierdie dag” (vers 39). Vier ontmoetings wat fokus op geboorte, dors, sien en lewe.

Johannes vestig ons aandag op die lewensnood van Lasarus, “hy vir wie U lief is” (vers 3), in die dorpie Betanië (letterlik, “huis van die arme”), die dorp van Lasarus se susters Martha en Maria. Johannes 12:3 vertel hoe Maria Jesus se voete gesalf het met ’n litra egte uiters kosbare nardusolie en sy voete met haar hare afgedroog het. Judas Iskariot het haar gekritiseer oor dié oordaad en gesuggereer die salf kon verkoop en die opbrengs vir die armes aangewend word. Johannes se verwysing na Betanië en Maria se daad, maak ons bewus van die kategorie armes, asook van die toekoms. Johannes stel hier vir Maria bekend wat eers later ’n daad verrig wat wys op Jesus se toekoms: “Daarop het Jesus gesê: ‘Laat haar begaan – sy het dit vir die dag van my begrafnis bewaar’” (12:7). Haar daad wys ook Jesus is belangriker as die armes wat altyd by ons sal wees: “vir My het julle nie altyd nie” (12:8). RCL laat ons met dié verhaal vooruit kyk na ons herdenking van Jesus se kruisiging en sy opstanding.

Johannes se verwysing na Maria en haar salwing van Jesus, lei ook die tema in van dood en lewe, wat sentraal is in dié verhaal: “Jesus het vir haar gesê: ‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf, en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie” (vers 25-26). Ons weet Johannes het ’n besondere literêre tegniek om sy verhaal oor Jesus se aardse lewe en lyding te vertel. Hy gebruik ’n alledaagse gebeurtenis, soos Lasarus se siekte in dié geval, gevolg deur ’n uitgebreide gesprek met iemand oor ’n uitspraak wat Jesus maak, maar misverstaan word. In ons Skrifdeel skep Johannes reeds die potensiaal vir misverstand deur in vers 1 te noem dat Lasarus ‘siek’ was. Die boodskapper dra die boodskap van siekte aan Jesus oor (vers 3). Jesus verbind egter die siekte-tema aan dood en die verheerliking van beide God en die Seun van God (vers 4). Lasarus se toestand het dus ’n teken karakter wat die omstanders en vir ons as lesers op God moet rig.

Ons hoor Lasarus was siek (vers 1), dat die siekte nie tot die dood is nie (vers 4), dat Lasarus slaap en dat Jesus gaan om hom wakker te maak (vers 11). In vers 12 reageer die dissipels op Jesus se uitspraak oor Lasarus se slaap as hulle dit letterlik interpreteer as slaap en die siekte as fisiese siekte wat kan genees. Op dié punt in die verhaal voeg Johannes egter ’n verklarende nota in as hy Jesus se bedoeling verduidelik: “Jesus het van sy dood gepraat, terwyl hulle gedink het Hy van die rus van gewone slaap praat” (vers 13). Dan eers sê Jesus openlik vir sy dissipels Lasarus het gesterf (vers 15) en verduidelik aan hulle dat sy afwesigheid tydens Lasarus se dood, bedoel is dat hulle kan glo (vers 15).

Nadat Jesus God gedank het omdat God Jesus verhoor het, verklaar Jesus aan die Vader sy optrede: “Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het” (vers 42). Daarna het Jesus met ’n harde stem in die rotsgraf ingeroep: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom (vers 43-44). Dié verhaal nooi ons as gelowiges om God en die Seun van God se heerlikheid te sien in die viering van Jesus se dood en opstanding op Goeie Vrydag en Paasfees.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Vyfde Week van Lydenstyd – Jaar A