Na aanleiding van Psalm 112 (lees 2020-vertaling)
Here, ek vertoef weer by U oor die mens se begeerte, óók my verlange, na ware geluk. Die psalmis herinner ons nogeens, soos so dikwels in dié gebedeboek van my geloofsgemeenskap, aan die bron van geluksaligheid; ’n geseënde bestaan, innerlike vrede en troosvolle geluk. Als begin by ontsag vir U, ons God!
Ontsag vir die Here is die begin van wysheid, getuig die psalmis. Dit is dié ontsag-erkennende wysheid wat insig gee in die wese van ware geluk wat U ons skenk, Here. Ja, aan u kinders uitdeel. Die geluk wat ontsag vir U by ons opwek, Here, groei uit erkenning dat u gebooie wysheid kweek en vir ons vreugde inhou.
Die psalmis pas die gelowige ontsag vir U toe op die ware geluk van ons nageslagte. Here, om ’n geslag van opregtes en geseëndes te wees wat vreugde in u gebooie vind en wysheid ontvang uit eerbied vir en onderdanigheid aan U, vra dat ek daagliks erns moet maak met hoe ek my ontsag vir U voorleef en oordra.
Daarom bid ek vandag vir my kinders en kleinkinders, Here. Hulle is die nageslag wat U aan my en my huweliksmaat toevertrou het, om ons doopgelofte aan U na te kom en hulle te leer wat ontsag vir U alles inhou. As ontsag vir U immers vir my die grondslag vir ware geluk is, móét ek tog dié kleinood vir my nageslag aangee.
Here, stel my en my generasie gelowiges in staat om ’n nageslag se geloof in en ontsag vir U deur u genade te vorm, sodat ons nageslag skynende lig in ’n duister wêreld mag wees. Ek bid dat ons geslag self lig mag wees vir ons nageslag, sodat hulle as opregtes in u wêreld kan leef. Ek bid vir my/ons voorbeeld in hulle belang.
As ek bid vir ons nageslag en die voorbeeld wat my lewe vir hulle moet stel, Here, begeer ek intens dat my ontsag vir U opreg mag wees; dat ek nie van hulle iets sal verwag wat ek nie voorleef nie. Ek glo u geregtigheid hou stand vir altyd, Here. Ek kán getuig dat U genadig, barmhartig en regverdig is. Mag my dade dit bevestig.
Here, ek bid dat ek en my nageslag die karakter van dissipelskap mag insien. Oorreed ons om u beeld te vertoon deur goedhartig uit te deel waar behoeftes bestaan, en eerlik op te tree in ons daaglikse werksaamhede saam met elkeen wat ons pad kruis. Ek glo ontsag vir U maak die hart bestendig en dryf vrees van ons af weg.
Here, seën my nageslag met u standhoudende geregtigheid.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – VYFDE WEEK NA EPIFANIE