Om die troon was daar ʼn reënboog
Openbaring 4:3
Min natuurverskynsels is vir my so mooi soos ʼn reënboog in die hemelruim. Ek kan dié keer goed onthou, helder sien ek dit vandag nog, toe ons as kinders met opgehoue asems vir mekaar die reënboog gewys het. Dit was laatmiddag, na ʼn harde hoëveldse donderbui. Waar die wolke oopgemaak het teen die westerkim, het die son sy kop deurgesteek. En daar was dit, ʼn volronde reënboog teen die ooste! Albei die reënboog se bene het aan die aarde geraak. Daar is mos verbeeldingryke verhale wat vertel van ʼn pot goud, net daar waar die reënboog die aarde raak. En ʼn wonderwêreld wat op jou wag, anderkant die reënboog … maar dan moet jy onderdeur kan loop! Later het ons geleer van die ligstrale wat “gebuig” word in die prisma van waterdruppels wat in die lug hang, en dan oopgebreek word in ʼn spektrum van die allermooiste kleure. Dis ʼn verklaarbare verskynsel, natuurlik.
En tog het ek my aan reënboë bly verwonder; dis asof die reënboog jou elke keer gerusstel, ʼn gebaar van vrede maak, ʼn soenoffer na die storm aanbied. ʼn Reënboog hou altyd ʼn belofte in.
So het die Bybel ook die simboliek van die reënboog verstaan. Na die sondvloed – God se oordeel oor die ganse skepping vanweë die mens se hoogmoed (hubris) en opstand teen God (die Toring van Babel) – het God met mens en dier ʼn verbond gesluit. In hierdie verbondsbelofte het God verklaar dat die skepping kosbaar is, dat lewe vir God belangrik is, dat God nie sy skepping wil of sal vernietig nie. Nee, God sal sy skepping vashou, daarvoor sorg, dit nuut maak; die nuwe hemel en aarde sal God laat deurbreek, soos die son tussen die stormwolke deur. Maar, in hierdie verbond verwag God ook van die mens om respek vir lewe te hê, die lewe van mens en dier. God se handewerk, die ganse skepping, moet ons met eerbied bejeën, dis heilig, dis mooi, dit is ons gedeelde lewensruimte, dis so ontsettend kosbaar. En as teken van hierdie verbond, het God na die reënboog gewys. As julle die reënboog teen die hemelruim sien, onthou dan, herinner mekaar dan aan God se belofte. Onthou dan hoe kosbaar hierdie aarde is, en die lewe op aarde (Genesis 9:8-19). Pas dit op, bewaar dit, julle is God se verteenwoordigers, God se medewerkers op hierdie aarde.
Maar, en dis die verrassende, die merkwaardige, hierdie reënboog is nie net daar om ons aan God se belofte te herinner nie. Nee, dis veral ook ʼn teken wat God self aan God se belofte herinner. “Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde” (Genesis 9:16). Die reënboog herinner God aan die ewige verbond, die belofte om alles weer nuut te maak.
As Johannes in Openbaring in ʼn visioen ʼn blik kry op die troonsaal in die hemel, vanwaar God Drie-enig heerskappy voer oor die skepping, oor die geskiedenis, oor alles, sien hy God op die troon, met die Seun en die Gees daarby. Die troon is ryklik versier, simbolies van die heerlikheid van God. En dan merk hy op, amper terloops, “om die troon was daar ʼn reënboog …” Waar God op die troon sit, is daar ʼn reënboog! Dit herinner God voortdurend aan die ewige verbond wat God met al die lewende wesens gesluit het – die belofte van ‘n nuwe hemel en ʼn nuwe aarde, die herstel van alles wat stukkend gebreek het, die tuin vol heling, en die nuwe stad vol vrede. Daar, daar waar God is, is daar ʼn reënboog. Wat ʼn gerusstelling!
Laat die wete ons egter ook herinner aan die manier waarop ons elke dag in God se skepping behoort te leef.
(Foto: Matthys Pienaar)