Troos by die uitgaan en ingang – Openbaring 1:17-19
Dit is Witte Donderdag 2020. Ons onthou ʼn tafel en Paasmaal, twaalf dissipels en Jesus, brood en wyn; die woorde: “Dit is vir julle, neem, eet…” Sy lewe vir ons.
Dit is vandag ook vyf-en-sewentig jaar ná die teregstelling van Dietrich Bonhoeffer op 9 April 1945. Twee weke voordat die Amerikaanse 97ste Bataljon die gevangeniskamp Flossenburg bevry en ʼn maand voor Nazi-Duitsland oorgegee het, het hierdie moedige getuie teen ʼn bose ideologie en weens sy verset teen Adolf Hitler, die hoogste prys betaal. Hy was nege-en-dertig jaar oud. Soms word ʼn mens se lewe onverwags onderbreek, het hy vroeër geskryf; ons moet gereed wees daarvoor. ʼn Mediese dokter, wat oor ʼn afstand ooggetuie van die teregstelling was, vertel hoe Bonhoeffer ontklee by die galg neergekniel en roerend tot God gebid het. “I have hardly ever seen a man die so entirely submissive to the will of God.”
Hoe sterf ʼn mens só?
Met die uitbraak van die Covid 19-pandemie en namate koorsagtige beelde en dodesyfers van elders ons daaglikse bestaan binnegedring en ontwrig het, is mens gekonfronteer met jou eie sterflikheid. Bejaardes is gewaarsku: hierdie virus is fataal. Die eerste sterfgevalle in ons land, egter, jonger mense. Skole is inderhaas gesluit, ons kinders afgeskerm. Vrese oor wat kan gebeur as die hoogs aansteeklike virus soos ʼn brand deur arm, digbevolkte gemeenskappe trek. Dokters, verpleegpersoneel en essensiële werkers moet infeksie in die oë kyk, keuses maak, hul maskers vasknoop, vir diens aanmeld. Vergeelde foto’s uit die Spaanse Griep van 1918. En diep in onsself, die wete: hierdie is ʼn oorlogskleed wat oor die wêreld sprei, onsigbaar die vyand. Openbaring se vier perde trek om die aarde: die wit ene van paniek en vals nuus; die vuurrooie van selfsug en geweld; die swarte van hongersnood; die gryse – die dood. Kyrie eleison, Here help!
Toe die apostel Johannes by die aanvang van daardie visioen die Stem agter hom hoor die Sondag op die eiland Patmos, wás dit vir hom ʼn vreesbevange moment soos van sterwe (1:17). Maar die Sprekende Een met sy voorkoms soos die son het die dreiging van donkerte besweer, die doderyk oorwin, Johannes aangeraak en getroos: “Kyk, dit is Ek, Ek lewe, Ek dra die sleutels …” (1:18). Moenie bang wees nie, Johannes; niemand sterf alleen; God is hier. In hierdie weke van kwarantyn en koors besef ons: ons eie dood kan ʼn asemteug ver wees. Ons is brose mense. Lewe hier gaan verby. En die dood? My dood is ʼn uitgaan hier en ʼn ingaan elders, die Ligkring binne. Dáár staan die Sleuteldraer, Christus, by my, soos die getroue Beskermer van Israel, Psalm 121:8.
Dietrich Bonhoeffer was daarvan oortuig. ʼn Medegevangene – Payne Best – het later vertel dat die Sondag ná Bonhoeffer se diens vir hulle, die wagte ingekom en die gevreesde woorde gesê het: “Prisonier Bonhoeffer, kom saam met ons.” In die verbygaan het Bonhoeffer vir Best gesê: “Hierdie is die einde – vir my, die begin van lewe.” Hy is deur ʼn krygshof verhoor, ter dood veroordeel en die volgende oggend vroeg, gehang. Die dood is ʼn deurgang. Die brood is gebreek: vir Johannes, vir Dietrich, vir jou.
Jan Lubbe
Berg-en-Dal, Bloemfontein.