‘Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur.’ 2 Korintiërs 2:14

Ons staan aan die begin van ’n splinternuwe jaar. ’n Jaar wat nog nooit was nie, en ook nooit weer gaan wees nie. Die jaar lê vol potensiaal voor ons uitgestrek, en diep in elke hart is daar die hoop: Miskien hierdie jaar.

Daardie droom van my. Dit waarvoor ek al vir jare lank bid. Versoening, genesing, herstel. Dalk is 2026 die jaar van deurbraak.

En dit is goed om so te hoop. Dit is waarom ons die aanbreek van ’n nuwe jaar vier. Ons hou partytjie en klink ’n glasie. Want ons hoop.

Alles verander egter nie handomkeer die oomblik wat die klok twaalfuur slaan nie. Verlede jaar se probleme is steeds daar wanneer jy jou oë op die eerste Januarie oopmaak.

Daar is egter reeds die moontlikheid dat 2026 jou oorwinningsjaar kan wees, en dit is omdat jy aan ’n God behoort wat reeds oorwin het.

‘want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? ‘ 1 Johannes 5:4-5

Jou probleme mag dalk nie oornag verdwyn nie, maar jy kan vir seker weet dat God agter die skerms besig is om dinge te laat uitwerk soos wat dit moet. Moenie moed opgee nie. Hy is goed en Hy is lief vir jou.

Dit is ’n liefde wat geen perke ken nie. ’n Liefde wat geduldig weer en weer sal uitreik. ’n Liefde wat jou met ope arms inwag. ’n Liefde wat net die beste vir jou wil hê. ’n Liefde wat sy oor na jou laat draai wanneer jy roep. Jou nooit verlaat of in die steek laat nie.

Mag 2026 die jaar wees waarin jy as oorwinnaar uit die stryd tree. Jou Goliat staan nie ’n kans teen God se liefde vir jou nie.

‘Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.’ Romeine 8:37

Geskryf deur Madeleine Venter