‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.’ Jakobus 3:17 (eie klem)
Van die sinonieme vir opreg is: betroubaar, karaktervas, met integriteit, geloofwaardig, eerlik, outentiek. In Engels sou hulle sê iemand is ‘real’, of soos wat Die Boodskap dit so mooi stel: ‘Jy sal altyd weet waar jy met hom staan. Soos hy voor jou is, so is hy ook agter jou rug.’ (Jak 3:17 DB)
Opregtheid is ’n Karaktereienskap wat elke Christen behoort te hê, want, volgens Paulus, is dít juis wat ons laat uitstaan as ligdraers:
‘Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld’ Filippense 2:15
Ons almal ken die maskerdraers, die verkleurmannetjies en die draadsitters. Daardie mense wie se oggend en aand praatjies hemelsbreed van mekaar verskil. Die probleem met so ’n leefstyl, is dat dit al hoe moeiliker raak om jou storie agtermekaar te hou en dat die gevaar om uitgevang te word al hoe groter raak. Dit is waarom die wyse Salomo opmerk:
‘Wie opreg leef, leef sonder vrees; wie krom paaie loop, word uitgevind.’ Spreuke 10:9
As ons egter eerlik met onsself is, besef ons dat almal eintlik maar hieraan skuldig is. Weereens is dit net onder leiding van die Heilige Gees, dat ons teen ons sondige natuur in werklik opreg kan wees.
Is dit nie wonderlik dat ons op die ou end weer uitkom by die oorkoepelende eienskap van Goddelike wysheid nie? Om opreg te wees beteken immers om sonder selfsugtige bybedoelings op te tree.
Dankie dat jy vir die afgelope paar weke saam met my gefokus het op die eienskappe van Goddelike wysheid soos wat hulle in Jakobus 3:17 gelys word.
Ons het gesien dat vredeliewende mense nie lafhartig is nie, maar juis dapper genoeg om vrede te handhaaf deur God in alles te vertrou.
Inskiklikheid vra dat jy met meer deernis teenoor jou medemens optree.
Om bedagsaam te wees, beteken dat jy nie selfsugtig optree nie, maar ander se gevoelens en posisies in ag neem.
Die vrug van ons bekering is om medelye teenoor ons naaste te betoon.
Die beste manier om onpartydig te wees, is deur nie vanuit jou eie verwysingsraamwerk te oordeel nie, maar eerder deur die bril van God se volmaakte liefde na ander te kyk.
Mag dié eienskappe so deel word van jou karakter, dat jy daagliks ’n vrugbare lewe tot eer van God en tot seën van ander sal leef. Vra die Here sommer vandag nog vir die wysheid van Bo sodat jy werklik sout en lig kan wees.
‘As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.’ Jakobus 1:5
Geskryf deur Madeleine Venter