´n Bekende dialoog uit die fliek, “The Hobbit”, is wanneer Gandalf by die dwerge aansluit net nadat hulle ´n baie noue ontkoming gehad het. “Where did you go to, if I may ask?” vra Thorin, die leier, vir Gandalf wanneer die ergste drama verby is. En Gandalf antwoord: “To look ahead.” “And what brough you back in a nick of time?” vra Thorin weer ´n keer. “Looking behind,” antwoord Gandalf.
Op enige reis, en ook ´n lewensreis, is dit soms nodig om te stop en vorentoe, en terug te kyk, om seker te maak dat jou perspektief nog reg is. Dit is nodig om na jou voorraad, jou reisplan en jou reisgenote te kyk en seker te maak dat alles nog volgens plan verloop.
So halfpad deur die jaar is dit dalk goed om, soos Gandalf, vorentoe en terug te kyk – ´n bietjie selfondersoek en voorraadopname te doen. Ons moet kyk na ons reisplan en ons reisgenote om seker te maak dat ons planne en perspektief reg is.
Hierdie stil word en nadink kan verskil van mens tot mens, en dit verskil ook van die sogenaamde vyf-jaar of tien-jaar plan waarvolgens mense hulle toekoms beplan. Want vir gelowiges is ´n baie groot deel van hierdie tipe beplanning en nadenke om eerstens seker te maak dat ons planne binne God se groot plan en sy wil vir ons lewens is.
Dit kan nodig wees om na te dink oor waar ons fokus die afgelope jaar was. Is ons eie planne en ideale, status of welstand, ons hoogste prioriteit? Of kan ons eerlikwaar sê dat ons elke dag vir God en sy koninkryk soek in dit wat ons doen? En wat van ons reisgenote? Die mense saam met wie ons in hierdie jaar werk en leef? Ons gesinne, kollegas en diegene wat ons lewens daagliks kruis? Hoe gaan dit met hulle? Sien ons mekaar raak, en verstaan ons ons hartsmense se behoeftes en vrese?
Ons moet ook na ons voorraad, ons gereedskap, kyk. Wat dra ons saam? Het ons alles wat ons nodig het? Hoe lyk ons emosionele reserwes? Of het ons dalk te veel? Ekstra en onnodige bagasie bemoeilik enige reis, en ´n lewensreis is geen uitsondering nie. Emosionele bagasie, soos ´n wrok, vrese of skuldgevoelens, kan ons lamlê en ons fokus verskuif. Dit beïnvloed ons spoed en veerkragtigheid. Dieselfde geld wanneer ons krampagtig vasklou aan geld en aardse besittings. Ons sal moeg en afgemat raak.
Dit is met hierdie selfde perspektief, en deur hierdie bril, wat ons ook vorentoe, na die res van die jaar, moet kyk. Is dit dalk nodig om van hier af ligter te reis, te leef? Hoe kan ons seker maak dat ons nie afdwaal nie, nie iemand agterlaat of vasgevang raak in dinge wat nie ewigheidswaarde het nie?
Gelowiges kan vir God opnuut vra om hulle Reisgenoot te wees en hulle planne, ideale en drome te rig volgens sy wil. Ons moet die Woord as die lig vir ons pad en die lamp vir ons voet gebruik, en só seker maak dat ons nie afdwaal nie. Ons kan ons lewens aan hierdie standaarde meet. Ons kan, soos die dwerge in die Hobbit, op arendsvlerke verder vlieg. Ons kan loop, selfs hardloop, sonder om afgemat te raak.
En ons kan dit wat ons doen aan God opdra en vra dat Hy ons paaie, ook vir die res van hierdie jaar, gelyk sal maak.
Deur Susan Goosen