Die feesseisoen en die aanbreek van ’n nuwe jaar is sinoniem met voorbereidings. Ons beplan, pak padkos, Kerskouse, vakansietasse en inkopiesakke vol. Ons pak in, pak uit, maak lysies, stel spertye en spandeer baie ure om alles vir Kersfees en die begin van die nuwe skool- en werksjaar gereed te kry. Goed begonne is immers half gewonne. En met goeie reg – wie wil nou onkant en onvoorbereid betrap word?
Die Egiptenare van Antieke Egipte het hulle voorbereidings ’n stappie verder gevat. Baie van hulle het trouens hulle hele lewe aan die voorbereidings vir die hiernamaals spandeer. Hulle het geglo dat jy deeglik voorbereid en gereed moet wees vir die reis deur die onderwêreld, en het ’n lang lys van benodigdhede vir dié doel gereed gemaak. Dit is waarom hulle met groot moeite en koste reuse en oordadige grafkelders – kompleet met waardevolle skatte, kos, beelde van slawe, gemummifiseerde troeteldiere, geheime tonnels en vals deure – voorberei het. Pragtig beelde, hiërogliewe en ander versierings het dié prentjie afgerond. Jy kon nooit weet wat jy alles sou nodig kry nie, en daarom moes die mense van Antieke Egipte op min of meer enige gebeurlikheid na die dood voorbereid wees. Alles wat jy moontlik kon nodig kry was binne bereik en reeds vroeg, soms lank voor jou dood, vir dié doel gereed gemaak.
Fassinerend. Die gevaar het bestaan dat hierdie inwoners soveel tyd aan voorbereidings vir die hiernamaals spandeer het dat hulle lewens, en hulle tyd op aarde, skoon by hulle verbygegaan het. Klink dit bekend? Ons kan maklik ook geheel en al opgeslurp raak in voorbereidings en toekomsplanne. Wat as? Wat gaan ons nodig hê? Hoeveel? En, soos die Ou Egiptenare, begin ons dan bymekaar maak, opgaar, inpak, wegsteek. Alles onder die vaandel van gereed wees. Voorbereid. In beheer.
Dit staan eintlik in skrille kontras met die ongekompliseerde leefstyl waarvan ons in die Bybel lees. “Kyk na die voёls,” sê Jesus. “Hulle saai nie en maai nie, en tog het hulle elke dag alles wat hulle nodig het. En die blomme! Hulle spandeer nie ure in die klerewinkels en haarsalonne nie, en tog vang hulle vrolike kleure dadelik die oog.” Hier is geen sprake van laat aand lysies en koorsagtige beplanning nie. Die basis van hierdie leefwyse, hierdie sienswyse, is sekerlik vertroue. Om te hoop op dit wat ons nie nou kan sien nie. Om saans rustig te gaan slaap met dié wete: God sal sorg. Vandag. Môre. Volgende jaar. En daarna.
“Moenie vannag oor môre wakker lê nie,” maan Jesus. “Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie. En al dié bekommernis kan jou lewe nie eers met een sekond verleng nie. Julle hemelse Vader weet tog wat julle nodig het. Hy wil graag sorg. Nee, in plaas van kommer, beywer julle eerder allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God. Dan sal God vir julle alles gee wat julle nodig het.”
Jesus het sy volgelinge aangemoedig om lig te reis: sonder te veel bagasie en sonder al die laste en kwellinge wat ons so maklik verstrik. Dit beteken sekerlik nie dat ons maar kan terugsit en Gods water oor Gods akker laat loop nie. Dit beteken wel dat ons beheer van ons lewens aan God kan oorgee, dat ons kan vra vir sy leiding en dat ons dié dinge wat in die toekoms lê, en waaraan ons vandag niks kan doen nie, met vertroue in ons Vader se hand sal los. Ons kan dit waaraan ons so krampagtig vashou met ’n geruste hand laat gaan, en oorgee, en eerder fokus op dit waarmee God rondom ons besig is.
Ons weet immers dat ons nie alleen reis nie. Dat Jesus met ons saamgaan. En dat Hy ons vooruitgegaan het. Dat alles wat ons langs die pad sal nodig hê, reeds daar vir ons wag. En dat ons selfs in die hiernamaals niks sal nodig hê nie, niks kan saamvat nie, omdat Jesus, suiwer uit genade, reeds vir ons plek gereed gemaak het.
Dus, pak gerus in wat jy vir dié jaar nodig het, welwetend dat dit eintlik maar min is. In die woorde van Thomas á Kempis: “They travel lightly whom God’s grace carries.”