Ja, jy mag met die grootheid van God spog, en Jesus se onvoorwaardelike liefde en genade wyd en syd verkondig.

Moenie skaam wees om vir almal te vertel dat sy kruisdood jou gered en die Heilige Gees jou nuut gemaak het nie – ’n regverdige. Jy mag maar.

Paulus skryf aan die Korintiërs:

‘Maar die Skrif sê: “Hy wat roem, moet in die Here roem.”’ 2 Korintiërs 10:17

En die spesifieke Skrif waarna hy verwys, is Jeremia 9:24:

‘Slegs hierop moet die een wat wil roem, hom beroem: dat hy insig het en My ken, naamlik dat Ek die Here is wat troue liefde, reg en geregtigheid handhaaf op aarde; want daarin vind Ek vreugde.” Dit is die uitspraak van die Here.’ Jeremia 9:24

Die tipe roem waarvan hier gepraat word is nie geestelike hoogmoed nie. Inteendeel, dit is presies die teenoorgestelde daarvan.

‘Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word.’ 2 Korintiërs 10:18

Wanneer word jy deur die Here geprys? Volgens Jeremia 9:24, is dit wanneer jy genoeg insig het om te weet dat Hy liefde, reg en geregtigheid handhaaf.

En dat dit eienskappe is wat Hy ook van sy kinders verwag:

‘Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.’ Miga 6:8

Wanneer die storms van die lewe toeslaan, twyfel ons soms aan God se liefde en geregtigheid. Dan voel dit asof Hy nie regtig so lief vir die mensdom is soos wat die Bybel sê Hy is nie. Omdat iets wat gebeur dalk nie vir ons sin maak nie, besluit ons dan ook sommer dat Hy onregverdig optree.

Dít is die proef wat jy moet deurstaan waarvan Paulus in 2 Korintiërs 10:18 skryf. Jy moet aanhou glo dat Hy troue liefde, reg en geregtigheid handhaaf, ten spyte van slegte dinge wat gebeur.

Onthou dat God se gedagtes en handelinge ver bokant ons begrip is. (Jes. 55:8-9)

Moenie die vyand se leuens glo dat God nie ons beste belange op die hart dra nie. Dié jokstorie van hom is so oud soos die Tuin van Eden.

Nee, God is altyd goed. Alles wat Hy doen is goed en reg. As jy aanhou om dit te glo en te verklaar, dán roem jy in die Here.

Mag sy goedheid en liefde altyd geprys word!

Geskryf deur Madeleine Venter