‘Dit is eerbaar om ‘n rusie te vermy; enige dwaas kan ‘n rusie begin.’ Spreuke 20:3
In Galasiers 5:19-21 word rusie in dieselfde asem as losbandigheid en afgodsdiens gelys as een van die praktyke van die sondige natuur. Paulus waarsku ook dat daar nie ’n plek in God se koninkryk is vir mense wat hulle hieraan skuldig maak nie.
Dit beteken nie dat jy nooit enigiets mag bevraagteken of oor redeneer nie. Paulus het gereeld in die sinagoges met die Jode geredeneer om hulle te probeer oortuig dat Jesus die Messias is (Hand. 17:2-3).
Die rusie waarteen ons gewaarsku word, is daardie skoorsoekery wat aspris daarop uit is om mense te ontstel. Ons almal ken ten minste een persoon wat om elke hoek en draai uitkyk vir so ’n geleentheid.
Paulus waarsku Timoteus teen wat gewoonlik rusie veroorsaak, en wat ons eerder moet doen:
‘Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra.’ 2 Timoteus 2:23-24
Hy sê dat dit nie logiese, opbouende redenasies is wat rusies veroorsaak nie, maar sinlose strydvrae. Die Nuwe Lewende Vertaling noem dit onsinnige argumente. Met ander woorde dit is daardie argumente wat niemand nader aan ’n oplossing bring nie.
En dan moedig hy ons aan om eerder op die volgende te fokus:
- Wees vriendelik.
Waar rusie as ’n praktyk van die sondige natuur gelys word, word vriendelikheid as Vrug van die Gees gelys. Dit is dus ’n karaktereienskap wat eers regtig moontlik is wanneer ons Geesvervuld is.
‘Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.’ KOLOSSENSE 4:6
- Bekwaam jouself om ander te leer.
In plaas daarvan om in die strik van sinlose argumente te trap, wees eerder gereed met ’n sinvolle antwoord. Weet ook wanneer om liewer stil te bly.
‘Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid.’ KOLOSSENSE 4:5
- Wees geduldig met moeilike mense.
Net soos vriendelikheid, is geduld ook ’n Vrug van die Gees. Liefde en geduld loop hand aan hand.
‘Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.’ KOLOSSENSE 3:13
Probeer om in die week wat voorlê ’n vredemaker te wees deur doelbewus op hierdie drie karaktereienskappe te fokus.
Geskryf deur Madeleine Venter