Christus maak ons weer heel
Van die vier Evangelies is Markus s’n eerste geskryf. Johannes Markus, die skrywer van dié boek, val sommer in die eerste vers al met die deur in die huis: Hier begin “die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God.” Die boek is bedoel om ‘n vertelling te wees van alles wat Jesus gesê en gedoen het, en veral ‘n vertelling van Jesus se dood en opstanding. Markus wou die goeie nuus oorvertel dat Jesus Christus die Verlosser is, dat God inderdaad is soos Hy hom destyds op die berg Sinai aan Moses openbaar het as “die barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid.” Evangelie beteken: goeie nuus! Dáároor gaan die boek Markus. En hieroor gaan die verhaal van die verlamde man en sy vier vriende.