Tyd vir “spring clean”!
Dit was my dogter se eerste woorde toe ek haar herinner dat lente (uiteindelik) om die draai is. Dit is bewonderenswaardig, want ek moet bely dat dit nie my eerste assosiasie of hoop vir die nuwe seisoen is nie. Ek is opgewonde oor die dae wat begin langer word, piepklein mango vruggies wat reeds sigbaar is, die swaeltjies wat laatmiddag oor ons tuin vlieg en die gedagte aan somer, son en see wat sekerlik om die draai is. Die belofte van nuwe lewe, van “weer begin”, gee vir my ´n huppel in my stap. Maar skoonmaak…!
Begin Augustus het die einde van die winter nog maande weg gevoel, maar skielik, op ´n dag, was die belofte van lente skielik daar. ´n Reuk in die lug, die voëls se oggendkoor wat in volume toeneem, ´n skynsel groen. Dit is dan geen wonder dat selfs die stroefstes onder ons die behoefte het om vensters oop te gooi, reg te pak en die lente – en lewe – in te laat nie.
My gedagtes het na hierdie nuwe seisoen en die vooruitsig van ´n skoonmaaksessie gespring toe ek onlangs weer deur Paulus se briewe gelees het. Ek meen dat Paulus die belofte van nuwe lewe, van weer begin, in elke nuwe gemeente raakgesien en gekoester het. Hy kon die nuwe lewe sien, ruik en proe wanneer hy tussen nuwe gelowiges gewerk het.
“God sal die goeie werk wat Hy in julle begin het voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wat Jesus Christus terugkom,” het hy aan die gemeente in Filippi geskryf. ´n Belofte van lewe en groei. God sal. Beslis. Ook vandag. Selfs al voel dit soos begin Augustus in jou lewe of in die lewens van jou hartsmense, kan jy weet dat die belofte van nuwe lewe reeds daar is. Ook wanneer jy moeg gesukkel is, of wanneer dit voel asof winter jou terughou, kan jy maar vashou aan die skynsel van groen wat plek-plek deurbreek. Winter sal nooit die finale sê hê nie.
Dit is so maklik om te verval in ou patrone, ou denkwyses, of om te bly vaskyk in geel gras, ´n vaal tuin of ´n uitsiglose situasie. Ons kan egter ook anders kies.
“Julle gees en gedagtes moet nuut word,” skryf Paulus aan die Efesiërs. Verwelkom die nuwe seisoen! Hy gee praktiese raad vir ´n geestelike skoonmaaksessie. “Vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.” Ons moet ons gedagtes rig. Doelbewus. The way to get the wrong thoughts out, is to get the right thoughts in.” Soos wat ons die winter uitlaat en die lentelug innooi, moet ons die belofte van nuwe lewe in ons lewens omarm. Nuut dink. Nuut glo. Nuut hoop. Silwerskoon.
Lente is hier. Selfs al voel dit nog soos ´n vae belofte. Dit is inderdaad tyd vir “spring cleaning”.
Geskryf deur Susan Goosen