Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

‘Wees altyd bly.’ 1 Tessalonisense 5:16

Hierdie is ’n baie kort Bybelvers waaroor ’n mens seker baie lank kan gesels.

Om mee te begin, is dit nie net bloot ’n wens wat uitgespreek word nie. Dis nie ’n ‘Ek hoop jy is altyd bly” nie. Nee, dit klink meer na ’n opdrag.

Nogal ’n vreemde een, veral as mens in ag neem dat dit tog nie altyd moontlik is om bly te wees nie. Daar is hartseer goed wat gebeur, en ook soms goeie rede om smoorkwaad te word.

Miskien lê die antwoord in die twee opdragte wat hierop volg: Bid gedurig en wees dankbaar. (1 Tess. 5:17-18)

Bid is ’n werkwoord, dit is iets wat jy besluit om te doen. Dankbaarheid is ’n ingesteldheid, iets wat jy kies om te wees. Dit sê vir my dat blydskap ook ’n keuse behoort te wees. M.a.w. dat ek kan kies om te onthou dat daar altyd iets is om oor bly te wees.

Volgens Spreuke 17:22 is blydskap goed vir jou gesondheid:

”n Vrolike mens is ‘n gesonde mens, ‘n neerslagtige mens raak uitgeput.’

Hierdie Bybelse waarheid, is al meermale deur navorsing bewys. Die mediese dokter, Cynthia Thaik[i], het o.a. bevind dat ’n blymoedige gees die volgende uitwerking op jou liggaam het:

  • Dit verminder jou kanse vir ’n hartaanval
  • Sorg vir gesonder bloeddruk
  • Verlaag cholesterol-vlakke
  • Help met die beheer van liggaamsgewig
  • Verminder stres
  • Versterk jou immuunstelsel
  • Gee jou energievlakke ’n hupstoot
  • En verhoog jou pyn toleransie

Dit is dus die moeite werd om Paulus se raad in Filippense 4:8 te volg:

‘Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.’

Sien die mooi dinge om jou raak, doen iets waarvan jy hou, spandeer tyd saam met jou hartsmense, beoefen ’n stokperdjie, waardeer die natuurskoon.

Laat jouself toe om gelukkig te wees en die lewe te geniet. Moenie ’n martelaars-houding inneem nie, en laat staan liewer die wrokke.

Alles wat God vir ons gedoen het – sy verlossingsplan – is buitendien meer as genoeg rede om bly te wees. Dit oortref al die hartseer en swaarkry wat soms oor ons pad kom.

Waarom begin jy nie hierdie week saam met my ’n nuwe gewoonte nie? Kom ons dink elke oggend, voordat ons uit die bed klim, aan iets wat ons laat glimlag. En dan verklaar ons saam met die Psalmdigter:

‘U groot dade, Here, het my baie bly gemaak, ek wil juig oor wat U gedoen het.’ Psalm 92:5

[i]https://www.psychologytoday.com/us/blog/the-heart/201401/happiness-is-the-best-medicine

 

Geskryf deur Madeleine Venter