Dit is net menslik om ander se gedrag teenoor ons persoonlik op te neem. Daardie nors kollega wat amper nooit groet nie, die kortaf ontvangsdame, die vriend van wie jy maande laas gehoor het. Ons neem so maklik aanstoot.
Wat ons egter nie altyd besef nie, is dat mens juis aanstoot neem wanneer jy baie sensitief oor iets is. As ek, byvoorbeeld, ’n tweede bakkie nagereg skep en iemand maak ’n opmerking daaroor, sal dit my glad nie pla nie, want ek is nie sensitief oor my gewig nie. As ek egter ’n probleem gehad het met my gewig, sou ek onmiddellik aanstoot geneem het. En as jy wat hier lees sensitief is oor jou gewig, sal jy heel moontlik aanstoot neem oor die voorbeeld wat ek so pas gebruik het. Sien jy hoe maklik is dit?
Wanneer ons voel dat ons verontreg word, neem ons aanstoot. Soms met goeie rede, en soms is ons regtig net oorsensitief. Die belangrikste is egter om daardie aanstoot so vinnig as moontlik weer te laat gaan.
In sy boek, The Bait of Satan – Living free from the deadly trap of offence, verduidelik John Bevere hoedat aanstoot jou gevange hou in ’n toestand van selfbejammering. Daarom moet jy nie net vergewe nie, maar ook vryspreek.
Wanneer mens nie vryspreek nie, bly jy stilweg hoop dat daar vergelding sal wees vir die wyse waarop jy tenagekom is. Daardie woede oor die onreg word dan al hoe swaarder, en gee die duiwel geleentheid om jou lewensvreugde te steel, verhoudings te vernietig, en lewensdrome te laat wegsterf.
Vergifnis is reeds moeilik genoeg. Om vry te spreek, nog moeiliker. Tog gee Jesus aan ons die opdrag, in Lukas 6:37:
‘Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.‘ (eie klem)
Hierdie opdrag is in liefde gegee, want Hy het gekom sodat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Hy het ons vrygemaak om werklik vry te wees. (Joh. 10:10; Gal. 5:1)
Maar wat dan nou van daardie bose dade wat regtig nie genade verdien nie? Moet ons regtig sulke mense ook vryspreek? Die antwoord is, ja. Onthou, ons kan nie slegte dade ongedaan maak deur vas te hou aan die onreg nie. Deur nie te vergewe en vry te spreek nie, bly jy dus ’n slagoffer van daardie dade.
Gee dit liewer aan God. Vra hom om die las van vergelding by jou oor te neem.
‘Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld.’ Matteus 16:27
Daar sal ’n dag kom, wat elke liewe mens rekenskap sal moet gee. Jy hoef jou nie daaroor te bekommer dat dit ongestraf gaan bly, of dat jy daarvoor verantwoordelik is om reg te laat geskied nie.
Jou lewe is te kosbaar vir wrokke. Moenie jou tyd om wroeg nie. Spreek vry en kyk vorentoe.
Geskryf deur Madeleine Venter