In Lukas 18:16 lees ons daardie bekende gedeelte oor Jesus en die kindertjies.
‘Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. ‘ Lukas 18:16
En in Matteus 18 lees ons hoe Jesus oor kinders voel:
‘“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ‘n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink … “Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurigdeur by my hemelse Vader is.’ Matteus 18:6,10
Kinders vertrou volwassenes van nature. Wantroue word dus aangeleer wanneer daardie volwassenes die kind teleurstel.
Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor kinders. Hulle is weerloos en uitgelewer, en dit is ons taak om toe te sien dat hulle nie net fisies veilig en versorg is nie, maar ook geestelik.
Dit is nie ’n taak wat ons sommer ligtelik mag opneem nie.
In sy boek, Spiritual Parenting, skryf Charles Spurgeon:
‘Put poison in the spring, and it will pollute the whole stream. Take care what you are doing! You are twisting the sapling, and the old oak will be bent thereby.’
Wat tydens die belangrike vormingsjare gebeur, bepaal ’n mens se leefstyl en keuses in die toekoms. So lees ons ook in Spreuke 22:6.
Laat ons daarom nie, soos die dissipels destyds, die kinders verhinder om by Jesus uit te kom nie. Laat ons eerder elke kind wat aan ons toevertrou word só lei dat hulle lewens gebou kan word op fondasies wat stewig in die Rots geanker is.
Daar is baie stemme en invloede wat ons kinders se aandag eis en besig is om hulle denkwyses te vorm. Ons kan eenvoudig nie net terugsit en die lewe sy gang laat gaan nie.
Mag ons elke dag die erns van ons verantwoordelikheid besef.
Geskryf deur Madeleine Venter