Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Twee weke gelede was ons dorpie in al wat ‘n nuusberig of koerant is. Die storie van Swellendam was op almal se lippe en was elke keer anders, soms het ons gewonder of ons iets gemis het, want sekere weergawes, het ons nie beleef nie, maar het ons wel gehoor. Gehoor as die waarheid, is die antwoord telkens.

Ons as mense, het die geneigdheid om stories te vertel, oor te vertel, mooi te vertel, aangepas te vertel. So kyk ek na myself gedurende hierdie week van opstand en protes en besef dat die hele basis van die storie geskoei is op ‘n ander vertel van dit wat aan die gebeur is. In die bus, oppad huistoe, word ‘n hele paar stories vertel. Van hoe die protesters goed gebreek en aan die brand gesteek het. Daar word vertel hoe die polisie op die mense geskiet het en daar rook en gas orals in die lug gehang het. Dit is alles die waarheid maar ek wonder hoe ons kinders alles so in detail vertel, want ek was by die skool meer as die helfte van die dag vir ondersteuning en ek het niks daarvan gesien nie.

Hulle kon nie alles sien wat hulle so met passie en verbeelding vertel nie, of kon hulle? Die twee jongeres erken dat hulle niks kon sien van hulle klasse af nie en dat hulle net vertel wat hulle gehoor het en dan erken hulle dat die skool maar ‘boring’ was omdat hulle in die klas moes sit en niks buite kon doen nie. Ouboet vertel met angs en passie in heel ander storie, want jy sien Pappa, vanaf ons klas kon ons uitkyk en het ons gesien wat gebeur! Ja vertel my meer. Na ‘n rukkie se vertel, kom ek agter dat hierdie stories, elke keer ‘n hoofstuk ekstra kry. Die gas word meer, die betogers word meer en sommer meer aggresief. Die Polisie skiet elke keer meer en harder en selfs die bloed raak nou sigbaar en die dood kruip nader.

By die huis gekom, roep ek hom eenkant en vra weer sy weergawe van die storie. “Nee boeta, dit klink of jy nou nie die waarheid praat nie” fluister ek sag vir hom. Daar is stilte, ‘n sug en dan weer stilte. “Pappa ek vertel dit soos ek dit in my kop gesien het.” Meteens besef ek dat sy belewenis meer was as wat hy gesien het. Sy vrees en verstaan van dit wat gebeur het, word ingeweef in die vertel van sy storie. Hy verwoord sy eie vrees en angs binne die waarheid, wat hy wel ‘n deel van gesien het.

Stories word die lewe en die lewe word stories.

Jesus het ook die neiging gehad om met stories te vertel en meeste van die tyd het Sy luisteraars nie werklik ‘n idee gehad waarvan Hy praat nie. Jesus vertel ‘n storie en dan laat Hy die hoorder toe om te besluit hoe die storie eindig en wat die storie vir hom/haar as luisteraar beteken. Jesus is die meester van die metafoor en van die einde met ‘n kinkel. Hy vertel stories wat nie altyd dadelik sin maak nie, stories wat jou deurmekaar maak en dan selfs stories waarvan dele van die storie kortkom. Jy as luisteraar moet soms die laaste legkaart stukkie invoeg. Jy moet besluit hoe jy die storie verstaan en dit deel maak van jou lewe en wêreld.

As ons na Jesus luister en ons dink: “Sover is dit regtig goed”, is ons binne die verkeerde storie. As ons na Jesus luister en ons dink: “ Sover is dit baie vreemd en weet ek glad nie wat om verder te verwag nie”, is ons in die regte storie! Rabbis het geleer, terwyl hulle die Wet bestudeer het, om te lees, om te blaai, te lees, te blaai, want alles waarna jy soek en moet hoor, is binne die Wet opgesluit. Jesus leer ons om nooit die krag van ‘n storie te onderskat nie, maar Hy leer ons om ons kultuur en verbeelding te gebruik, om ons harte te verander.

Ons moet nie net die stories van die Bybel lees nie, ons moet binne daardie stories lewe en hulle moet in ons leef. Die oomblik as stories uit die kerk verdwyn en die kerk word ‘n skatkis van goud en silwer en ‘n gejaag na perfeksie dan is ons nie meer die liggaam van Christus nie.

Jesus gaan teen die grein in en soms as ek die verhale lees, is die stories van Jesus vir my soos ‘n aanhoudende kopseer. Jesus wil hê dat ons met mekaar praat oor die stories wat hy vertel, hy wil hê dat ons rondrol en die storie weer en weer en weer lees. Hierdie stories wat nie werklik klinklare antwoorde het nie, laat ons vrae vra aan mekaar. Dit laat ons noodgedwonge ekstra tyd met Jesus spandeer. Dit bou ons verhouding en vorm ons dissipelskap. Jesus se stories is oor verhoudings, met mekaar en met Hom. Verhoudings met die dinge van die wêreld en die dinge waaroor ons wonder.

Ons benodig meer stories wat vertel word en minder stories van vlees en bloed. Die liggaam van Christus moet weer en meer, gevoed word met die stories uit die evangelies. Stories wat skok en ons deurmekaar en met twyfel los, sodat ons gewillig is om deur God na nuwe weivelde begelei word. Ons leer God ken deur stories.

Almal van ons leef ‘n storie. Die vraag is watter en wie se storie leef jy?

Die Bybel is verseker nie ‘n “Eendag lank, lank gelede”, storie of fabel nie, maar ‘n “Aan die begin,”storie van skepping en vasbyt. Jesus se stories is vir die lewe gemaak, die lewe in sy volle glorie van deurmekaar wees, pyn, hartseer en selfs morsigheid van mens wees. God het ons gemaak as skepsel wie ‘n storie het om te vertel, ‘n storie het om te leef, met pyn, vreugde, opwinding en ten volle mens wees. Die grootste storie wat ooit vertel is, Jesus en verlossing, is daar om met die eggo’s van ons siele te resoneer.

Geloof is nie “om te leef asof die Storie waar is nie.” Geloof is om jou hele lewe op die spel te sit, met die wete, die kennis, dat die Storie waar is!

Gaan vertel jou storie deur jou storie te leef, want dit is waar jy ‘n verskil maak. Jou verstaan van die Storie is wie jy is. Wie jy is, en hoe jy dit leef, dit is Jesus vir ander. Deur die vertel en leef van jou storie en jou nader beweeg aan Jesus, sal jou storie dieselfde bly. Sal jy nie meer aanhaak as wat die werklike storie is nie, want jou vrees en jou twyfel verdwyn binne in jou storie wat deel word van die wêreld rondom jou. Onthou om nooit die Antwoord te gee nie, maar maak almal wat op jou pad kom, deel van die Antwoord, sodat hulle self aan die einde en gevolg kan skryf. Dit gebeur omdat Jesus se voorbeeld en storie, altyd voorop staan en die weg bepaal.

Terwyl Jesus die geneigdheid het om alles in ‘n storie te verander, gee ek vir jou die gebed wat ek bid, elke keer as ek die Bybel oop maak:

“Terwyl ek binne U Storie klim, laat U Storie lewend word in my,

Sodat terwyl ek binne U wêreld beweeg,

U Storie die wêreld kan ingaan deur my.”

Amen

Gaan vertel en leef jou storie.

Geskryf deur Wynand Olivier