JOHANNES 7:37-39 (2020-vertaling)
Die week na Pinksterfees in die Christelike Jaar, neem Revised Common Lectionary (RCL) ons terug in die Johannesevangelie na hoofstuk 7, vroeg in Johannes se vertelling oor Jesus se aardse bediening. Met die oog op die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterfees (Hand 2:1-13), bied ons Skrifdeel geleentheid om vanuit ’n chronologies vroeëre moment in God se verlossingsgeskiedenis vir die wêreld, te herbesin oor die werk van die Heilige Gees. Johannes 7:37-39 bied ’n vroeë uitspraak van Jesus oor wat diegene wie in Hom glo, sou ontvang wanneer die Heilige Gees kom (vers 39a). Jesus se uitspraak oor strome lewende water (vers 38) staan in die “Boek van wonders en tekens” (hfst 2-12) in die Johannesevangelie. Daar verhaal die Evangelis Jesus se wondertekens en gesaghebbende uitsprake oor wie Hy is. In ons Skrifdeel verwys Jesus met die “strome van water”- simboliek, na die toekomstige werk van die Heilige Gees om Jesus se identiteit bekend te maak en te bevestig.
In Johannes se vertelling kies Jesus ’n teologies strategiese moment in die Jode se liturgie ter viering van een van die drie hoof feeste van hulle godsdiens, naamlik die Huttefees, ook bekend as die Fees van die Insameling; ’n sewedaagse oesfees in die sewende maand van die jaar. Verskillende seremonies met rituele was deel daarvan. Een liturgiese ritueel was die uitgiet van water uit die Siloamfontein op die altaar. Op die laaste dag, die groot dag van die fees met sy sterk water-simboliek, het Jesus uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom, en drink” (vers 37). “Die groot dag” was die sewende dag, die fees se hoogtepunt. Die fees se ryk simboliek het verwys na Israel se trek deur die woestyn, uitredding deur water uit die rots, die aankoms in die land van vrugbaarheid en opsien tot God vir seën op die oes. Die seremonie was ook ’n bede tot God dat Hy in die komende jaar lewe en vrugbaarheid mag gee.
Binne dié liturgiese konteks van herinnering aan God se historiese redding van sy verbondsvolk, roep Jesus die Joodse aanbidders om Hom te herken en te erken as die Een wat hul geestelike dors vir ewig sal les. Sy uitspraak herinner aan die gesprek met die Samaritaanse vrou by die fontein van Jakob in Johannes 4:7-14, asook aan die Ou-Testamentiese verwysing: “Kom almal wat dors het, kom na die water” (Jes 55:1). Jesus nooi sy gehoor om na Hom toe te kom met hul sonde nood, sodat Hy hulle sonde wegneem. Jesus nooi die aanbidders ook om “te drink”, met die betekenis van “in My glo” as saligmakende geloof. Met die tweeledige uitnodiging vestig Jesus die aandag op Hom as die adres waar geestelike dors geles word, asook die adres vir ’n voortdurende geloofsverhouding van die bevryde met sy/haar Bevryder.
In vers 38 beskryf Jesus die effek wat geloof in en die voortgaande verhouding met Hom, vir die verloste mens inhou. Vir dié uiteensetting van die saligmakende geloof in mense, sluit Jesus aan by die water-simboliek van die liturgiese rituele van die Huttefees waaraan sy gehoor ten tye deelgeneem het: “Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Hier gaan dit nou om meer as die les van persoonlike dors. Jesus beklemtoon die oorvloed van seën wat uit die geseënde voortvloei tot seën van ander. Die een wat glo, word ’n kanaal waardeur die lewende water wat Jesus gee, na ander toe vloei.
In vers 39 pas Jesus die aksie van deurvloeiende seën toe op die Heilige Gees en verklaar dat die Heilige Gees die ‘lewende water’ is waarvan Hy praat. Op dié punt van Johannes se vertelling wys hy vooruit op die komende uitstorting van die Heilige Gees met Pinksterdag. Die uitspraak het betrekking op almal wat ná daardie tyd tot geloof kom. Ná Pinkster sal die Heilige Gees met krag in gelowiges getuig van die verlossing wat Christus bring, sodat die verlostes dié blye boodskap na alle mense laat deurvloei.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Week na Pinksterfees – Jaar A