“Out of every hundred men,
ten shouldn’t even be there, eighty are just targets,
nine are the real fighters, and we are lucky to have them
for they make the battle.
Ah, but the one..the one is a Dragon Hunter.”
– Aangepas van Heraclitus, circa 460 BC
Leierskap is deesdae werklik ‘n baie besproke onderwerp en elkeen wil hy/sy opinie lewer oor wie dan ‘n goeie of slegte leier is. In ons land ken ons tans die spreekwoord: “Van die hand na die mond, val die pap op die grond!”
Dinge loop nie reg nie. Ons voel frustreerd met beurtkrag, ‘n swak, steierende ekonomie en die oneindige bedrog en korrupsie. Lewenskoste raak net meer en elke brandstofprys verhoging isoleer ons en verswelg ons hoop.
Ons fondament is Jesus, maar dit voel soms of hy ook sy rug op ons gedraai het. Sy kinders hanteer mekaar met minagting en waar jy na liefde smag, kry jy oordeel en vrees! Kerke het institusionele strukture geword wat meestal na hul eie belange omsien. Dit voel asof ons in die modder vasgevang sit en nie weet hoe om uit te kom nie, want ons is so bang dat welke stelling ons maak, ons tog nie iemand wie anders as ons dink, se gevoelens moet seermaak nie. Ons vermy konflik net soveel soos koerant voorblaaie.
Hoekom fokus ons so op vrees?
Miskien omdat ‘n lewe in vrees ons kwesbaar maak. In vrees kan ek beheer oor jou uitoefen, ek kan van jou ‘n pion maak op my skaakbord. Jy kan opgeoffer word want ons is teikens, hoewel ons ‘n baie belangrike rol vervul, glo ons dit nie meer nie. Vrees laat my in myself twyfel, dit laat my twyfel aan die beloftes van God en die werking van die Gees van God in my lewe en omstandighede.
Besef ons nie meer ons waarde nie?
Ons elkeen het die opdrag van God om voluit te leef, om ons volle potensiaal na te streef, dit te bereik en dan daarvolgens te leef. Iewers het ons so gewoond geraak om te volg, soms blindelings sonder om te dink, dat ons verleer het dat elkeen die potensiaal het om leiding te neem en ‘n verskil te maak. Ons word maklik een van die tien wat net daar is om getalle vol te maak. Om op te staan en standpunt in te neem is nie so maklik as wat ons gedink het nie. Jy stel jouself bloot aan kritiek en jy maak jouself ‘n teiken van ander. Jy sit inderwaarheid ‘n rooi kol op jou eie rug, of so voel dit.
Die pad van die lewe is nie altyd so mooi soos hy lyk nie – daar is dorings en gate (potholes in Suid-Afrika), berge om oor te klim en baie kruispaaie met die wroeging van “gaan ek dit ooit maak?”. Gaan ek ooit op ‘n gelyker pad loop? Gaan daar weer genoeg padtekens wees om rigting aan te wys? Gaan ek genoeg brandstof hê? Ek kyk om my rond en dit voel of ander se paaie net soveel makliker ry, beter gebou is as my paaidjie?
“Traveller, there is no path. The path is made by walking.”
-Antonio Machado
Tydens die tyd wat hierdie vergelykingstryd in my woed lees ek terloops (daai Gods’ terloops) die woorde hierbo raak. Dit laat my besef; ek is nie hier om net gemaklik op uitgeloopte, duidelike paaie te stap nie, want elkeen se lewe is ‘n nuwe begin met eie besluite oor waar jy gaan loop.
Ek het besluit om een van die tien “fighters” te wees waarvan Heraclitus praat. Ek wil ‘n verskil maak van so aard dat die impak rigtings kan verander. Samelewings kan verander. Ek wil die liefde en beloftes van God leef, sodat ander wie nie noodwendig nuwe paaie wil loop nie, op die voetpad waarop ek loop, kan volg. Die probleem is dat ons van kleintyd af geleer word dat jy dit nie gaan maak nie, om suksesvol te wees moet jy die massa volg. Moet nie golwe maak nie, moet nie die hoenderhok skuif of skud nie, want die hoenders gaan stres en ophou eiers lê!
Hoe gaan jy ooit leer en groei as jy nie die “status quo” uitdaag nie? Hoe gaan jy ooit een van die 10 fighters word of self die Dragon Hunter as jy op die kantlyn staan?
“There are no failures in life, only results”
-Tony Robbins
Ek dink, ons dink, ons is nie goed genoeg nie. Foute of valle kry die naam van mislukkings instede van lesse geleer.
13 jaar gelede het ek ‘n besluit gemaak op die ingewing van die oomblik. Die resultaat van daardie besluit het my lewe drasties verander. Dit het my gedwing om die snelweg waarop ek geloop het, te verlaat en in die veld – waar geen pad is nie – te strompel en te struikel. Die resultaat van my besluit het die einde van ‘n 12 jaar oue huwelik beteken. Die resultaat was erge seer vir alle partye en wonde wat jare vat om te genees. Maar dit was gedoen, die paadjie was geloop en al wat oorgebly het was dat ‘n nuwe pad geloop moes word. Ek het ongelooflike lesse uit daardie besluit geleer en ek het beleef hoe God my vertroos, almal wie seergekry het vertroos en weer oprig en sterk maak.
Die nuwe pad was moeilik, is soms nog steeds moeilik maar op hierdie reis het elke les geleer my lewe verander. Ek het ‘n gesin, wat ek nooit op die snelweg sou gehad het nie. ‘n Ongelooflikke huweliksmaat en drie engele as kinders en in elke dag is daar lag en leer.
Wanneer ek reflekteer besef ek die bepalende oomblikke was om in my identiteit as kind van God te staan, om my foute te erken en verantwoordelikheid te vat en om oor die seer te praat, veral met geliefdes. My besluite het bepaal of ek een van die tien is wat maar net sowel nie daar hoef te wees nie of een van die gesogtes.
Ons raak moedeloos met ons situasies, ons land, ons kerk, ons ekonomie en ons eie onkunde. Dit is goed so, want eers as ek die frustrasie erken en uitwys kan daar verandering kom.
“Ah, but one is the Dragon Hunter”
God het jou en my as sy kinders uitgekies om nie net die “fighter”s te wees nie maar ook die “Dragon Hunters”. Heraclitus se woorde kom uit ‘n tyd van oorlog – hy beskryf die mag wat ‘n oorlogsveld moet teenstaan. Ons is ook nou in ‘n oorlog – hy lyk miskien anders, gebruik ander wapens en gebeur op verskillende plekke – dis steeds ‘n oorlog. Ons benodig steeds vegters en leiers wat leiding kan neem.
Ons moet opstaan en die rol vervul in geloof en in vertroue op Sy belofte dat Hy ons nooit sal los nie, dat Hy ons nooit vergeet nie en dat Hy agter ons staan.
Ek het myself uitgedaag om daar te loop waar daar nog geen pad is nie, om te gaan waar God my benodig en ek weet – dit is beslis nie daar waar die “status quo” gehandhaaf word nie. Ek wil die vegter wees wat die moeilike vrae vra al beteken dit ek sit ‘n teiken op my eie rug. Dit is waarom die “fighters” daar is, hulle veg die moedige geveg en maak al die opponente moeg sodat die oorhand maklik is wanneer die Draak hul eindelik konfronteer! Verandering is nie maklik nie, om teen die stroom te loop is verseker nie altyd lekker nie en om die leier te wees of die moeilike besluite te ne neem was nog nooit eenvoudig nie. Maar dit is immers ons opdrag.
God is getrou en alhoewel dit soms voel of Hy nie meer Sy deel doen nie, sal ek die draak stormloop en nie opgee nie, want Hy is daar. Hy was nog altyd daar en sal nog altyd daar wees.
Vergewe ons Here, want ons weet nie aldag wat ons doen nie!
“As jy bereid is om verandering te bring,
om die jagter van die draak te wees, moet jy weet:
jy gaan nooit weer gemaklik wees nie, jou lewe gaan nooit weer
eenvoudig wees nie! Maar o die belonging…”
– Wynand Olivier 2022
Ek wil jou uitdaag om die ongeloopte pad te loop, sodat jy die een is wie die rigting wys, jy die een is wie ander kan volg, die een wat die dorings en klip wegvat. Ek wil jou uitdaag om die pad te loop as ‘n vegter wat teen liefdeloosheid, oordeel en oneerlikheid veg. En ek wil jou uitdaag om te leer uit jou foute en die boodskap te versprei.
Liefde Wynand