In die maand van liefde kan ons seker ´n slag saam giggel oor dit wat mense ter wille van die liefde doen. Want dit lyk asof liefde, en verliefdheid, self die gehardste bene in jellie kan verander.
Daar is vele skreeusnaakse stories van diegene wat, ter wille van die liefde, skielik begin het om mooi aan te trek, geleer het om te kook of skielik in kranige fietsryers of kanovaarders verander het. Ter wille van die liefde laat jong pappas toe dat klein dogtertjies hulle naels verf, of kook mammas Superman kos of was (weer) prentjies van die mure af. Ouers aanvaar gelate die chaotiese huis en die vingermerkies (of taai kolle) in die nuwe motor. Ter wille van die liefde sal ons ons geld en goed deel, die ander een (soms) eerste stel of selfs kans sien vir ´n eerste kampeervakansie.
Die liefde verander mens kwansuis. Geswore alleenlopers deel skielik hulle rusbanke (of die televisie se afstandbeheer), doen weg met huisversierings (waarvan die ander een nie hou nie) of stem in om vegetaries (of in elk geval meer slaai) te eet. Ter wille van die liefde offer ons ons tyd, gewoontes, belangstellings en soms selfs ons drome op. Ons plaas dit op die altaar, ter wille van iemand wat vir ons spesiaal is.
Ter wille van die liefde is ons soms ook bereid om maar anderpad te kyk. Jy ignoreer ´n skewe woord of verkeerde gedrag, vergewe nog ´n keer of tree vir ´n dwarstrekkerige kind of eggenoot in die bresse. Jy probeer verstaan, rasionaliseer die ongevraagde aanmerking of doen selfs mee in iets waarmee jy nie saamstem nie, alles ter wille van die vrede. En die liefde. Die liefde dring ons.
Al hierdie opofferings en aanpassings lyk egter klein en geheel en al onbenullig wanneer ons kyk na dit wat God ter wille van die liefde gedoen het. Die Bybel vertel dat God die wêreld só lief gehad het, dat Hy sy Enigste Seun na die wêreld gestuur het.
´n Gewone opoffering was nie genoeg nie. Dit sou nie help nie. Niks behalwe die heel grootste offer, sou ons kon verlos nie. God kon ook nie maar net anderpad kyk, of ons oortredings – ons skewe woorde, verkeerde gedagtes en selfsug – oorsien nie. Want God haat sonde. Maar Hy het die sondaar lief.
So lief, dat God sy Seun na die wêreld gestuur het. So lief, dat Jesus bereid was om sy heerlikheid in die hemel op te gee en as ´n mens op aarde te kom woon. Hy kon nie maar gedeeltelik gee nie, Hy moes alles gee. Homself gee. Die liefde het Hom gedring en gedwing.
Om jou laaste Rolo, jou spaarrekening of televisiespeletjies te deel, het wel waarde, en kan beslis ´n glimlag op iemand se gesig sit. Maar die vreugde is van korte(r) duur. Ons kan onsself, en mekaar, eerder voortdurend herinner aan die genade van God se geskenk aan ons. Ons harte moet oorspoel van dankbaarheid oor dit wat God ter wille van die liefde, vir ons, sy geliefdes, gedoen het.
Jy is geliefd, begenadig en verlos. Jy is syne. Alles ter wille van die liefde wat daar in God, ons Here Jesus en sy Heilige Gees is.
Deur Susan Goosen