‘Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.’ 1 Timoteus 6:11b (eie klem)

’n Mens is toegewy aan ’n oefenprogram, ’n dieet, jou studies, die grootmaak en versorging van jou kinders, jou beroep, huwelik, stokperdjies, die sportspanne wat jy ondersteun, projekte, doelwitte, oortuigings, vriendskappe, en wat ook al in die lewe vir jou belangrik genoeg is.

Die HAT definieer ‘toewy’ as volg: ‘… die meeste van jou tyd/krag/energie aan iets bestee; jou tot beskikking of in diens stel van; jou wy aan …’

In die brief aan Timoteus, moedig Paulus die jong man aan om, onder andere, te streef na toewyding aan God.

Wat presies beteken dit om aan God toegewy te wees?

Om toegewyd aan God te wees, beteken om te lewe soos wat Hy vra ons moet lewe, en ons lees ’n samevatting daarvan deur die profeet Miga:

‘Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.’ Miga 6:8

Reg geskied wanneer alles wat jy aanpak met integriteit en goeie bedoelings is. Jy bewys liefde en trou wanneer jy jou deur sy Gees laat lei, sodat jy ’n instrument in sy hand kan wees. En jy lewe bedagsaam voor God as jy jou talente en gawes – in nederigheid – tot eer van sy koninkryk aanwend.

Toegewydheid aan God is ook wanneer jy elke geleentheid om die Evangelie te verkondig aangryp. Jy is toegewy deur in Jesus te bly en vrug te dra wat die Vader verheerlik. En deur jou lig so te laat skyn sodat ander dit sien en God daardeur verheerlik word. (Mat. 6:33; Joh. 15:8; Mat. 5:16)

Toewyding aan God beteken ook dat jy toegerus is daarvoor om in sy koninkryk te werk. Staan kwaliteit tyd af aan Bybelstudie en gebed – of dit nou in jou stiltetyd, by die Kerk, of as deel van ’n Bybelstudie groep is. Dit is die enigste manier om ’n ten volle toegeruste en toegewyde dienaar van die Here te wees.

‘Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ‘n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig.’ 2 Timoteus 2:15

Paulus sê vir Timoteus dat hy hom daarop moet toelê om ’n arbeider te wees wat God se goedkeuring wegdra. M.a.w. hy moet toegewyd wees daaraan om die Woord suiwer te kan verkondig.

Soos wat die jaar na ’n einde toe snel, en daar geleentheid is vir retrospeksie op die maande wat verby is, vra jouself die vraag af: Hoe toegewyd was jy aan God gewees?

Maak dit dan een van jou voornemens om in die Nuwe Jaar só te leef dat mense van jou kan sê: Daar is ’n toegewyde Christen.

Geskryf deur Madeleine Venter