‘Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind.’ Kolossense 3:12-14 (AFR20)

Dié gedeelte uit Kolossense is in ’n neutedop hoe ons gesindheid as Christene behoort te wees. Amper soos ’n samevatting van alles wat Jesus ons leer uit die Evangelies, en verder ook deur die briewe van die Apostels.

Kyk byvoorbeeld hoedat die volgende Skrifgedeeltes by Kolossense 3:12-14 aansluit: 1 Pet 2:9; Ef. 4:1-3, 32; 5:2; Mat 6:14; 11:29; Joh 13:34 en Rom 13:8-10.

Die Kolossense word aangespoor om, bo en behalwe al die dinge wat God se uitverkore heiliges onderskei van die res van die wêreld, mekaar lief te hê. Selfs nog meer – hulle moes liefde soos ’n kledingstuk aantrek.

Klere word gedra om te bedek en beskerming te bied.

Wanneer jy liefde aantrek, beskerm jy jou hart teen bitterheid, afguns en selfbejammering.

Liefde as kledingstuk help jou om nie liggeraak, jaloers en verwaand te wees nie. (1 Kor 13:4-7)

Paulus sê aan die Kolossense dat liefde soos die gordel is waarmee jy meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld en vergewensgesindheid aan jou lyf hou. Sonder opregte liefde gaan dit baie moeilik wees om dié eienskappe uit te leef.

Dit is net wanneer ons in opregte liefde optree, dat ons werklik binne God se wil kan lewe. Kyk wat skryf Johannes:

‘Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.’ 1 Johannes 3:18

Dit is maklik om te sê dat jy liefhet, maar dit gaan eers regtig ’n verskil maak wanneer jy dit uitleef.

Hoe lyk liefde wat in dade oorgaan?

Dit lyk soos respek betoon en vriendelik wees met almal.

Dit lyk soos uitreik na daardie een met wie niemand sommer praat nie.

Dit lyk soos vergewe en vryspreek.

Dit lyk soos bid vir die een wat jou sleg behandel.

Dit lyk soos die verkondiging van die Evangelie.

Jy behoort elke dag die keuse te maak om liefde aan te trek, want jy is ’n geliefde van God. En Hy is liefde.

Geskryf deur Madeleine Venter