MATTEUS 16:13-20 (Lees die 2020-vertaling)
Ons besoek dié week ’n vierde verhaal (16:13-20) in Matteus se vierde hoof deel (13:54-19:1 of 2) oor Jesus se bediening. Ons onthou dat Jesus in dié stadium van sy bediening begin onttrek het van openbare interaksie en Hom tot sy kleiner groep dissipels wend vir hul geloofsvorming. Ons Skrifdeel vertel van Jesus se privaat gesprek met sy dissipels in ’n afgeleë gebied, weg van die Galilese skare. Die gebied van Caesarea-Filippi was in nie-Joodse gebied, naby die oorsprong van die Jordaanrivier. Dit was die sentrum waar Pan as afgod aanbid is. In dié konteks vra Jesus aan sy dissipels wat hulle hoor die mense se algemene opvatting oor Hom is: “Wie sê die mense is die Seun van die Mens?” (vers 13). Matteus gebruik dié indirekte verwysing na Jesus, terwyl Markus en Lukas eenvoudig praat van “Ek”.
Dat Jesus só na Homself verwys, open die vraag: “Wie is die Seun van die Mens?” (vgl. Joh 12:34). Matteus maak van die begin van sy evangelie af duidelik wie Jesus was (1:1). Die Vader bevestig sy identiteit met sy doop (3:17) en die demone herken Jesus (8:29), maar die skare het moeite om te identifiseer wie Jesus was. Ook die Fariseërs se herhaalde versoek om ’n teken, suggereer dat selfs hulle probeer uitvind het wie Jesus was (16:1). Die dissipels rapporteer dat die groeiende openbare mening oor Jesus se identiteit is dat Hy een van die vroeëre profete is wat teruggekeer het (Johannes die Doper, Elia, of Jeremia). Al dié profete het opgetree as God se mondstuk by die Jode. Hulle het God se oordeel aangekondig oor die sonde van die verbondsvolk. Die punt wat Jesus en Matteus maak, is dat Jesus nié maar net ’n gewone profeet is nie. Hy is weliswaar die ‘Seun van die Mens’, maar presies wat onderskei Hom van voorafgaande profete. Is Hy net iemand uit die verlede, of in watter opsig is Hy méér as dit?
Dit is juis oor hierdie méér dat Jesus Hom tot sy dissipels rig. Deel hulle die algemene opinie oor wie Jesus is? “Maar julle, wie sê julle is Ek?” (vers 15). Dan praat Petrus as verteenwoordiger van die dissipels en identifiseer Jesus sodanig dat Jesus met ’n saligspreek reageer: “Gelukkig is jy, Simon Barjona…” (vers 17). Daar in die omgewing waar die afgod Pan aanbid en vereer word, bely Petrus die oortuiging van die dissipels oor die identiteit van Jesus. Hỳ is die Seun van die lewende God (vers 16), teenoor ’n dooie afgod soos Pan. Méér nog, Jesus is die Christus van God, die Messias vir wie die Jode so reikhalsend verwag het. Die Seun van die Mens is die Messias van Israel én van die hele wêreld. Dit alles bely Petrus, nie omdat hy en die dissipels enige besondere insig uit hulself gehad het nie, maar omdat die Vader die waarheid oor Jesus se identiteit aan hulle geopenbaar het (vers 17). God maak hulle harte en oë oop vir Jesus.
Op grond van Pertrus se belydenis oor Jesus deur God se openbaring, spreek Jesus hom aan as verteenwoordiger van die dissipels met nog ’n openbaring, naamlik oor die implikasies wat sy (en die dissipels se) belydenis vir hul toekomstige lewe in navolging van Jesus binne die konteks van die koninkryk van die hemele inhou. Die Aramese naam Cefas (Petrus), beteken ‘rots’ of ‘steen’. Indien Petrus dan bereid was om te verklaar dat Jesus die Messias is, was Jesus bereid om op grond van Petrus (en die dissipels) se identifisering met Jesus te verklaar, dat Petrus die fondament sal wees waarop Jesus die nuwe geloofsgebou gaan oprig. Soos wat God Abram se naam verander het na Abraham as aanduiding dat hy die vader van baie nasies sal wees (Gen 17:5), gee Jesus aan Simon die nuwe naam Petrus, die Rots. Jesus
gaan ’n nuwe gemeenskap bou wat saamgestel is uit almal wat met Hom identifiseer as God se gesalfde koning. Die nuwe beweging en gemeenskap begin hier in Caesarea-Filippi, die sentrum van die afgod Pan, met Pedtrus se belydenis. Jesus se nuwe gemeenskap sal eenvoudig bestaan uit sondaars wat vergewe is.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Dertiende week van Koninkrykstyd – Jaar A