‘Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.’ 1 Korintiërs 2:4-5
Ons as mense kan die evangelie verkondig. Ons kan Skrifgedeeltes duideliker maak en Bybels uitdeel. Ons kan ons getuienisse deel en ander Kerk toe nooi.
Maar ons kan niemand red nie.
Al het jy iemand deur jou getuienis so ver gebring om die reddingsgebed te bid, en al bid jy hoe hard saam. DÃt is nie wat hulle weer gebore laat word nie.
‘Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.’ Johannes 6:63
Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag was net so bonatuurlik soos wat Jesus se geboorte uit ’n maagd en sy opstanding uit die dood was. Die wind, die vuurtonge, die praat in ander tale. Hoe ook al sommiges probeer om dit logies te verklaar, dit bly die krag wat Jesus met die Hemelvaart aan sy dissipels belowe het. ’n Bonatuurlike krag wat hulle sou benodig om sy getuies te wees tot aan die uithoeke van die wêreld. (Hand. 1:8)
’n Bonatuurlike krag wat ook in jou, as kind van God, werksaam is. Nie vir jouself nie, maar vir die uitbreiding van God se koninkryk.
Wees ingestel op sy leiding terwyl jy die Evangelie deel. Bid dat die Gees se stem harder as joune sal wees. Luister wanneer Hy jou stuur om met iemand te praat, of aanmoedig om vir ’n spesifieke persoon te bid. Vra Hom om die spesiale gawes wat Hy jou gegee het te openbaar, sodat jy dit tot sy eer kan aanwend. (1 Kor. 12:7-11)
Onthou, dit gaan hier oor lewe of dood. Die verantwoordelikheid wat jy teenoor verlore siele het, is om die Heilige Gees deur jou te laat werk. Wees jy sy hande, sy voete en sy stem. Hy sal die res doen.
‘Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.’ Johannes 3:6-8
Geskryf deur Madeleine Venter