Dit is weer daardie tyd van die jaar waar al die versierings en liggies oral om my opduik. Kersliedere klink in die kerk, kinders skryf briefies, en die lysies is lankal gemaak. Familie-etes word al weke vooruit beplan, met debatte oor wie se beurt dit hierdie keer is om te kuier.
As ons eerlik is, sien ons almal uit na Kersfees – en spesifiek die geskenke. Dit bly lekker om ’n geskenk oop te skeur, te skater van vreugde en vir ’n oomblik weer kind te voel. Ons wil eintlik nooit heeltemal grootword en maak asof ons nie meer glo nie… want Kersvader ry mos nog steeds in sy slee. En al weet ek hy bring nie regtig my geskenke nie, kies ek om die fantasie nie heeltemal te verloor nie. Dit laat my vir ’n paar sekondes vergeet van ál die dinge wat my vasdruk – werk, verantwoordelikhede, strewe. Die vreugde van daardie opgewonde oomblik… jou hart wat vinnig klop terwyl jy wag om te sien wat onder die papier wegkruip – dit bly te lekker!
’n Paar weke terug preek ek oor Psalm 23. Ja, ja, ek weet… jy is al keelvol vir preke oor Psalm 23. Jy ken dit, jy kan dit uit jou kop uit opsê, en tog wonder jy soms: Maak dit regtig so maklik sin? Want jy, soos ek, sukkel maar met die valleie en skaduwees van die lewe.
Die Maandag ná die diens druk iemand vir my ’n papier in die hand:
“Kyk wat het hierdie kind gister in die erediens geskryf!”
Ek lees vinnig – ek is laat vir ’n dagbestuurvergadering – maar iets trek my terug. Dinsdagoggend sit ek met koffie voor die rekenaar, en lees weer. En die wêreld raak stil:
Die Here is my Herder.
Nie net iemand wat oor my waghou nie, maar iemand wat my ken.
Die hoeke van my hart, die grense van my verse, die pad wat ek soms nie self verstaan nie.
Hy weet as ek rus nodig het, al weet ek dit nie altyd self nie.
In Sy teenwoordigheid word ek stil,
My asem vind weer ritme, my gedagtes raak ligter,
En ek voel: Ek is veilig!
Hy laat dit reën in groen weivelde.
In ruimtes binne my waar Sy vrede stadig en stil wortel skiet.
By waters waar rus is, herinner Hy my dat ek nie hoef te jaag nie,
Dat ek nie alles hoef te dra nie.
Sy stem: “Kom net en wees. Ek is hier.”
Hy verkwik my siel.
Wanneer ek moeg is van probeer,
wanneer ek verlore voel tussen my eie gedagtes,
raak Sy hand weer aan my binneste,
en ek onthou: “Ek behoort.”
Dan lei Hy my in spore van geregtigheid
Hy wys my hoe om weer lig te wees.
Hoe om sag te leef in ‘n harde wêreld.
Nie vir my eie eer nie, maar vir Sy Naam,
want Hy is goed, en ek mag ook goed wees!
Selfs al loop ek deur die donker dale, waar ek nie weet wat wag nie, waar stilte swaar hang,
vrees saggies fluister, weet ek: Ek is nie alleen nie!
Hy beskerm my, Hy lei my.
Ek voel Sy nabyheid soos ‘n sagte skaduwee van Liefde wat oor my val as ek beginne wankel.
Hy berei vir my ‘n tafel voor, selfs waar ek nie vrede verwag nie. Hy wys my dat seën nie verdwyn omdat die lewe moeilik is nie.
Hy salf my met olie. Hy herhinner my aan my waarde, aan die glans wat Hy self in my geplaas het.
My beker loop oor: van genade, van vergifnis, van nuwe beginne.
En ek weet….
Sy goedheid en Sy trou sal my volg, nie net op my beste dae nie,
maar ook terwyl ek struikel, twyfel of huil.
Al die dae van my lewe bly Hy naby.
En aan die einde van alles, wanneer ek rus, sal ek tuis wees in die huis van my Here,
waar rus nie meer breek nie
en Liefde die enigste lig is.
- Minke Ferreira, 15-jaar oud (Vryburg, Noord-Wes)
Ai, ou Dawid… as jy maar net kon sien hoe jou woorde honderde jare later mense se harte aanraak. Terwyl ek sit en kinders se briefies oor geskenke lees, wonder ek of jy sou geglimlag het oor hoe die Herder vandag steeds meer gee as enigiets in mooi papier toegedraai. Of jou eie digterlike beskrywing vir jou nog dieper betekenis sou kry.
Ek love Kersfees – soos ek gesê het – want dit is lekker. Dis feestelik, vol lag en lig. Terwyl ek hierdie skryf, speel Va, Pensiero (Guiseppe Verdi) in my ore. Die musiek laat my dink aan die hemel: ’n plek van rus, ’n plek van tuiskoms. En sommer so tussenin sien ek vir Kersvader agter my staan… en die slawekoor sing van die droom wat God in hulle harte geplaas het, die verbond van ’n God wat nooit vergeet nie.
Maar dan tref dit my:
Kersvader bring elke jaar geskenke – en dit bly lekker.
Maar die Herder bring eenmalig die grootste geskenk van alles.
Die Herder los my nie met die geskenk in my hand nie.
Hy maak dit saam met my oop.
Hy skeur die papier van verwerping af.
Hy help my die stukkies bymekaar sit.
Hy leer my hoe dit werk, hoe om te leef sonder die vrees vir dors, donker of dood.
Hy gee lewe – en Hy verwag nie dat ek elke jaar iets beter moet kry nie.
Eenmalig bring Hy aanvaarding.
Eenmalig bring Hy vergifnis.
Eenmalig bring Hy lewe.
En uit lewe kom troos.
Uit troos kom vreugde.
En uit vreugde borrel lof.
Kersvader…dankie vir die geskenkies. Dankie vir hoop en verwagting en die kinderlike opwinding. Dit is lekker. Dit hou net ’n rukkie, maar steeds, dankie.
Maar Here, my Here, my Herder —
Dankie vir die rus.
Dankie vir U aanraking wanneer ek wil opgee.
Dankie vir U hand op my skouer wanneer ek bewe vir die donker onbekende.
My beker – my sak vol geskenke – loop oor van nou af tot in ewigheid.
Ek kort niks meer nie, want U is by my.
Ek het geen ander geskenk meer nodig nie.
Here, maak my iemand wat ander help om U geskenk oop te maak en te onthou:
Waar rus nie breek nie,
En Liefde die enigste Lig is.
Geskryf deur Wynand Olivier