Vir twee weke lank word die slapies afgetel in die Olivier huis. 14…13…12…….7…..3…..1 en dan tref dit ons as ‘n skrillende stemmetjie skreeu…uit volle bors…dis vakansie!! Vandag ry ons, vandag begin die “road trip”.
Pappa vee stadig die Klaasvakie slaap uit sy oë. Mamma brom van onder die kombers, in ‘n taal wat net ‘n Mamma verstaan. En ons albei wil eintlik net nog ‘n bietjie rus omdat dit donker is buite en ons tot laat gepak het. Maak nie saak hoe hard ons probeer, of hoe vroeg ons vakansie aankope begin regsit nie – die aand voor vertrek is altyd ‘n nagtelike stryd met daardie laaste twee sakke waarin jy alles sal vind. Van ‘n tandeborsel tot Lego, buise sonroom en die wasgoed wat nog nie droog was nie. Van ‘n naelknipper tot ‘n notaboek en daai pak toffies wat mamma weggesteek wil hou.
Heelaas word dit nie geduld nie want die nefies en niggies is 1500 km ver en die drie gesiggies sit al van vroeg reg in hul sitplekke in die bus. Hop hop, opstaan en Pappa kry darem koffie en beskuit in die bed. Mamma begin ook darem saggies neurie toe sy eindelik haar hare droog blaas.
Die sleutel draai en die musiek begin speel… “STOP STOP” kom dit van agter. “Ons moet nog bid” en met die woorde val Twakkies sommer weg en bid vir die reis en vir min baklei.
Gou kom die besef dat almal eintlik moeg en met kort lonte sit, speel, ry en gesels. Die kwartaal was rof.
Soos ons deur die Karoo ry, beleef ons egter net die guns van God. Die sluise van die Hemel is oop, water staan soos damme in die veld. Stroompies wat ek laas as ‘n kind gesien loop het, is in vloed en strome van seën spoel oor die grond. Die wind waai met alle mag en krag. Wat darem help met die brandstof gebruik so van agter. Dit is ook ‘n “blessing”, nie waar nie?
Die kilometers, padkos en geduld stap lanksaam aan terwyl ons gesels oor ons voorregte en ons liefde vir hierdie land en sy mense. Eindelik is ons in die bosveld. Dankie Here. Ons luister na die nuus op die radio en hoor hoe vloede in die Kaap mense ontwrig, met vrees laat leef en verwoesting saai. Maar ons kan soek na die Ystervark wat onder die dek bly. Die sterre wat loer en Bobbejane wat blaf oor die rant. Vroeg oggend staan ons en kyk hoe die Njala die nuwe vars blomme steel en skelm eet. Sy los darem ‘n paar vir die jong bulletjie wat later skaam skaam, of is dit bang bang, nader staan?
Terwyl die son sy lig stadig oor die horison dwing, steel die neushoring my beskuit van die tafel hier neffens my! Ek weet nie wie van ons twee skrik die grootste nie, maar vir ‘n oomblik kyk ons mekaar stip aan… ek vat toe maar die deel wat hy los en druk dit in my koffie. Met ‘n groot kabaal, staan die eekhoring nader en staar stip na my: “Nou waar is my deel?” ag ok man, lag ek en gee die laaste deel vir hom, staan op en gaan haal vir my ‘n nuwe een. “Hierdie een is myne, julle kry niks”…mompel ek sien hoe die klipspringer water drink by die dammetjie.
Ek begin lees waar my Bybel oop val:
“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe,
selfs ook die wat nie geld het nie, kom koop en eet;
ja, kom, koop sonder geld
en sonder om te betaal, wyn en melk.”
– Jesaja 55 vers 1
Die diere rondom my laat my weer iets besef, iets van genade en afhanklikheid van God, wat ek deur die jare verloor het.
Hulle kom elke oggend uit hul veiligheid na die water. Hulle vertrou dat daar gras, blare en insekte gaan wees. Hulle kom ook sonder betaalmiddele, vanselfsprekend en verseker met geloof. Hulle verwag en weet God voorsien en soms is daar iemand wie ‘n bederf deel en glimlag. Daar is wel die tye waar die water op raak, die sluise van die Hemel toegesluit bly, die veld kaal raak en die damme leeg, maar steeds kom hulle met geloof en verwagting. Die verwagting dat die uitkoms naby is, al is dit net ‘n paar druppels, net een blommetjie, maar die uitkoms bly die verwagting, dag vir dag, uur vir uur.
Verwagting gevorm deur geloof.
God se natuur leer my weer van Sy grootheid. Sy liefde en genade help my verwagting groei en vorm. Ons as mense, beleef die laaste jaar groot druk. Kos word duurder, rentekoerse verhoog en werkloosheid neem toe. Vier jaar terug was die hemel sluise toe en ons damme leeg. Nou rommel strome en riviere met geweld, saai verwoesting en vrees. Hoekom is ek as mens so geneig om verwagting met vrees te vervang? Geloof met twyfel? Hy roep ons almal om te kom na die water, want Sy water is verniet. Sy water is daar al is die sluise toe en droog die krane van aardse verwagtings op. Hy is immers die God wat die versekering gee:
“Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou
sal nooit verdwyn nie, my vrede verbond met jou
sal nooit wankel nie.
Sê die Here, wat jou liefhet.”
– Jesaja 54: 10
Dit is koud in die aandlug en die stilte van die veld is merkwaardig. Dis ‘n stilte wat klim tot in jou wese en gaan sit op jou hart. Dit is immers God se tyd. Dit is die tyd wat God na die mens roep in die tuin en saam met die mens, man en vrou, wandel en gesels.
Here kom, kom ry saam met ons deur die veld. Wees net hier want ons bewonder die tuin hier op aarde wat U vir ons gegee het. Skemer verander nou vining in donker en steeds speel die olifante met ons wegkruipertjie! Die renoster staan nader en loer saam met die bromvoël vir ons. Ons hoop steeds vir ‘n kykie na die grootvoete – hulle is definitief hier want ons kan hulle hoor maar nie sien nie. Skielik hardloop die aardwolf deur die gras, hy is nou hier en dan weg. Dit is asof hy weet ons verwagting, ons hoop, moet ‘n troosprys kry na die grootvoete ons ontwyk. “Hoe ver is die huis, Mamma?” Ons jongste se stem dwing my terug na die huidige.
Frankie, ons lief en dierbare, sout van die aarde gids, spring vining uit om die ligte se draadjie iewers by die engin te koppel. “Man die kar is nou oud, maar hy loop nog”, skerts hy terwyl hy sukkel. Die liedjie kom by my op: “Oompie trap die petrol dat ons viniger kan ry, Oompie trap die petrol…” dit is nou pik-nag-donker. ‘n Entjie voor die huis tref ons ‘n hobbel en daar gaan die ligte weer donker. Ammie het weer ‘n vraag: “hoe gaan ons ry in die donker?”
Frankie spring uit, vergeet die handrem en moet weer terugspring. My vrou lag nou kliphard en Frankie glimlag net terwyl hy die ligte smeek om weer te werk. Niks wil egter gebeur nie. Hy klim maar weer terug en sê rustig: “Moenie worry nie, ons is naby. En ek ken die pad. Hy ry met geloof (en seker ‘n 1000 smeekgebedjies) in die donker, veilig tot by die huis.
As die lig ontbreek, raak geloof moeilik, raak verwagting min. Vrees raak meer, en twyfel neem oor. Dit is juis dan dat ek hierdie woorde hoor:
“Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop,
om oortuig te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie.”
– Heb 11:1
Here, dankie dat u saam met my wandel in die aand se skemer. Dankie dat U my weer leer dat geloof en verwagting twee kante van my hoop in U is. Here dit is donker daar buite. Here kom help ons om U lig te sien, U stem te hoor en U belofte te glo.
Help my om weer lig in die donker te wees, om die baken vir ander in die donker te wees.
Geskryf deur Wynand Olivier