MATTEUS 4:12-23 (2020-vertaling)

Die Christelike Kalender neem ons verder op die weg van God se plan vir die verlossing van die wêreld, deur die menswording van Jesus Christus heen. In die lig van die Revised Common Lectionary volg ons tans Matteus se vertelling van Jesus se menswording, en wat Hy op dié pad gedoen en beleef het tot heil vir die wêreld, in gehoorsaamheid aan sy Vader se gestuurde opdrag.

Ons Skrifdeel vertel hoe die volgende fase in Jesus se aardse lewe aanbreek om daar met sy bediening te begin. Die inhoud van Jesus se verkondiging het ’n tweeledige fokus. Hy roep almal op om hulle tot God te bekeer én Hy kondig aan dat God se heerskappy besig is om deur te breek: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande” (vers 17).

Vir Matteus is dit lewensbelangrik dat sy lesers moet verstaan dát en hóé Jesus se bediening deel vorm van God se plan soos dit in die geskiedenis van die wêreld vir die verlossing van die mensdom ontplooi het. Jesus se verkondiging begin toe Johannes die Doper deur die tetrarg Herodes, in hegtenis geneem is (vers 12). Hy is uiteindelik deur Herodes laat onthoof (14:11).

In ons Skrifdeel kondig Johannes se gevangenskap die oorgang aan vanaf Johannes se bediening as die stem van iemand wat in die woestyn roep (3:3) ter voorbereiding van Jesus se koms, na die aktuele bediening van dié Een wat vooraf aangehkondig is. Vir Matteus is dit verder belangrik om die verband tussen Jesus se optrede en die Ou-testamentiese profesie oor die Messias te beklemtoon. In vers 14-16 haal Matteus uit Jesaja 8:23-9:1 aan om dié verband te onderstreep. Jesus kom vervul die profesie.

Jesus se bediening in Galilea was omvattend. Dit het inderdaad verkondiging van die koninkryk en oproep tot bekering behels, maar ook lering en onderrig in hul Sinagoges, asook genesing van elke siekte en elke kwaal onder die volk (vers 23). In die proses het Jesus ’n kern groep individue versamel met die doel om hulle toe te rus en te vorm as sy dissipels, sodat hulle sy koninkryksbediening in die toekoms sou kan voortsit (vers 18-22).

Soos vir Simon, Andreas, Jakobus en Johannes, roep Jesus ook vir jou en vir my met ’n belofte gekoppel aan die taak wat Hy aan ons toevertrou: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” (vers 19). Dit is wel aangrypend dat die manne vir wie Jesus daar by die see opgesoek en geroep het tot navolging, onmiddellik reageer het, om Hom gehoorsaam te volg. Wat my selfs méér aangryp, is dat Jesus na dié manne uitreik waar hulle besig was met hul daaglikse werk om lewensbrood vir hulself en hul afhanklikes te verdien. Dit is daar waar die radikale keuse vir Jesus gemaak word.

Het Jesus al in jou leefruimte verskyn met die uitnodiging om Hom te volg? Het jy al gepeins oor wat dit in jou eie lewe sou beteken om ’n visser van mense te wees? Dalk gebruik Jesus hierdie paar sinne vandag om jou daarvan bewus te maak dat jy ook deel vorm van die lysie mense vir wie Hy roep om die nuus te versprei dat die koninkryk van die hemele in Jesus Christus aangebreek het. Hoe reageer jy daar binne die konteks die Here jou geplaas het?

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Derde Week na Epifanie – Jaar A