Die bekroonde outeur, Karen Lamb, het gesê: “A year from now you will wish you had started today”
Haar woorde ego Spreuke 20:4 se wysheid:
”n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie.’ Spreuke 20:4
Ons leef soms met drome in ons harte wat nooit realiseer nie, omdat ons nie werk daarvan maak nie. Op ’n dag besef jy dan dat jy miskien nou al lankal daardie droom kon geleef het, as jy net vroeër begin het om dit na te jaag.
Wil jy graag ’n musiekinstrument bespeel? Begin dan vandag leer hoe om dit te doen. Droom jy daarvan om te reis? Begin dan vandag om daarvoor te spaar. Sou jy graag ’n boek in jou hand wou hou wat jy self geskryf het? Begin dan vandag daaraan skryf. Miskien wil jy graag sing, of skilder, of ’n huis by die see hê.
Om te droom is goed, maar as jy jou drome wil sien waar word, moet jy oorgaan tot aksie. Harde werk bring beloning. (Spr. 14:23)
Daar is baie verskonings – en sommige is geldig – maar jy moet ten minste steeds probeer. Daar sal altyd die een of ander rede wees waarom jy nie nou aandag aan jou drome kan gee nie.
Dit is waarom die prediker gesê het:
‘Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie.’ Prediker 11:4
Op een of ander stadium moet jy net moue optrek en begin saai sodat jy eendag kan oes. En dan moet jy deurdruk totdat daardie eendag aanbreek en nie moed opgee in die wagtyd tussen saai en oes nie.
Niks wat die moeite werd is, kom maklik nie, en om drome na te jaag vra opoffering. Prediker spoor ons egter aan om die vrug van ons arbeid te geniet, en vir dit om te kan gebeur, moet daar arbeid wees. (Pred. 5:17)
So, waarvoor wag jy? Begin sommer deur vandag al daardie eerste saadjie te plant.
Geskryf deur Madeleine Venter