“Ek sal teruggaan na my pa toe.”
Hierdie woorde is die keerpunt in Jesus se aangrypende gelykenis van die verlore seun. Dit is die desperate woorde van iemand op moedverloor se vlakte: ´n vuil varkhok. So hopeloos en uitsigloos, dat selfs die varke se kos na ´n moontlike maaltyd lyk. ´n Seun wat skielik onthou het wie hy regtig is, en waar hy vandaan kom.
Dit is ´n bekende verhaal wat deur die eeue al baie harte aangeraak het. Ons kan almal in die verskillende stadiums van ons lewens met die onderskeie karakters in hierdie verhaal assosieer. Ons weet hoe dit voel om jonk te wees en die grense te toets. Gesag uit te daag. Ons weet hoe dit voel om weg te gaan, hopeloos te verdwaal en te besef dat ons ´n fout gemaak het. Verlore. Ons weet hoe dit is om as ouers alles in ons vermoë vir ons kinders te doen, net om te sien hoe hulle besluit om ´n verkeerde rigting inslaan. Een wat niks goeds inhou nie. Ons ken dié pyn en angs. Die verwyte. En dan ken ons natuurlik ook die hart van die oudste seun. Hoekom kry my broer soveel genade? Hy verdien dit nie? Wat dan van my? Hoeveel keer moet ek vergewe?
Ons hoef nie ver te kyk om te sien hoe hierdie verhaal hom vandag steeds afspeel nie. Daar is baie kinders, oud en jonk, tieners en volwassenes, wat verdwaal en verlore is nadat hulle hulle eie rigtings ingeslaan het. Soms is dit ten spyte van. Ander kere, as gevolg van. Ons sien die pyn in ouers se oë. Die radeloosheid. En die verwarring op die gesigte van kinders en jongmense wat nie hoop en moed het nie. Ons sien hoedat gesinne verbrokkel en gesinslede verleer om na mekaar uit te reik.
Die verhaal van die verlore seun eindig egter nie so nie. Dit eindig met liefde, vergifnis en hoop. Onverdiende genade. Die einde simboliseer ´n nuwe begin, ´n tweede kans. Want te midde van sy eie swak besluite en ondeurdagte optrede, het die seun sy vader se hart geken. Iewers in sy verwarde gedagtes, moes hy geglo het dat sy pa hom nie sou verwerp nie. Dat daar genoeg liefde en genade was vir vergifnis. Hy het geglo dat hy selfs as ´n arbeider in sy pa se huis, ´n beter lewe sou kon lei.
Daarom het hy kans gesien om terug te gaan. En sy pa het hom met ope arms terug verwelkom. Met heerlike kos en nuwe klere. Met ´n partytjie, ´n fees. Hierdie pa sou alles vergewe, want hy het sy seun terug gevind. Dit was ook die boodskap waarmee hy sy oudste seun se vrae en klagtes beantwoord het. “Ons moet vergewe. En feesvier. Ons kan nie vaskyk in die foute van die verlede nie. Dit is jou broer. Ons moet nou die toekoms vier.”
In Jeugmaand kan ons vir ´n oomblik gaan stilstaan by dié verhaal van ´n pa en sy seun. Ons kan kies om binne soortgelyke verhale, bakens van vergifnis en hoop te wees. Ons kan tweede kanse met oorgawe vier. Ons kan dit moontlik maak vir kinders, oud en jonk, om terug te keer. Ons kan ouers wat elke dag langs die pad vir hulle kinders wag, weer moed inpraat. En ons kan God, ons Goeie Vader en die skrywer van ons verhaal, dank vir elke goeie hoofstuk, elke skoon bladsy en elke goeie einde. Ons kan die toekoms vier. Ons kan glo en weet dat Hy, wat die goeie werk in ons begin het, dit ook enduit sal voer. Vir ons en vir ons kinders.
Geskryf deur Susan Goosen