Ek was op ’n keer dapper genoeg om saam met ’n gids dele van die Sterkfonteingrotte te verken wat nie normaalweg vir die publiek oop is nie. Onder die veiligheidstoerusting wat ons moes dra, was veiligheidshelms waaraan baie skerp kopligte vas was.

Dit was ’n belewenis om hierdie nuwe wêreld diep onder die grondoppervlak te verken. Ek kon my behoorlik vergaap aan die reuse ruimtes wat sigbaar raak in die strale lig wat voor ons uitgeskyn het.

Op ’n stadium moes ons egter ons kopligte vir ’n paar minute afskakel, en ’n donkerte so swart dat mens skaars kon asemhaal, het ons omvou. Natuurlik moes ons ook doodstil sit, want sonder lig was die kanse dat jy in ’n rotsskeur of ondergrondse meer beland amper honderd persent gewaarborg.

So is dit ook in die geestelike wêreld. Daar is baie mense wat in die donker rondtas omdat hulle geestesoë verblind is. In Paulus se gebed vir die Efesiërs, vra hy dat dit nie die geval met hulle moet wees nie:

‘Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels,’ Efesiërs 1:17-18 AFR20

Dié Skrifgedeelte behoort ons aan te spoor om ook die Heilige Gees te vra vir geestelike wysheid en openbaring wanneer ons Bybelstudie doen. Net soos wat dit gevaarlik was om sonder lig in die grotte rond te beweeg, net so is dit gevaarlik om op ’n missie te gaan met ’n Bybelvers wat jy nie reg begryp nie.

‘Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is.’ Psalm 119:130

Deurdat die Heilige Gees vir jou insig gee, word jy ook versterk met nuwe hoop, en kan jy in Sy lig ver genoeg vooruit sien om te weet dat jou eindbestemming beslis die moeite werd is. Dan sal jy nie moed opgee nie, maar jou roeping passievol uitleef.

Jou stiltetyd behoort ’n tweegesprek tussen jou en die Heilige Gees te wees. Maak tyd daarvoor om te luister wat Hy sê. Laat Hom toe om jou na betroubare bronne te lei waar die Woord korrek en in waarheid uitgelê word.

Mag jy in dié week regtig ervaar hoedat die Heilige Gees die oë van jou hart verlig, en mag die Woord vir jou oopgaan.

Geskryf deur Madeleine Venter