Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Hierdie is gewoonlik die tyd waarin daar rondgeskarrel word om alles gereed te kry vir die jaar wat voorlê. Onderwysers werk hard om hulle lesplanne en roosters gereed te kry, ouers koop nuwe skoolklere en skryfbehoeftes, en besighede hou vergaderings om mylpale vir die jaar te bespreek.

Dit is alles goed en wel, maar is jy terselfdertyd besig om gereed te maak vir oorlog? Wag voordat jy ophou lees, ek is nie een van daardie doemprofete wat ’n bleek prentjie vir 2025 skets nie. Ek praat hier van die oorlog waarteen Paulus ons in Efesiërs 6:12 waarsku:

‘Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.’

Jy is in die middel van ’n geestelike oorlog. Dit is egter nie ’n oorlog wat jy hoef te vrees nie, want dit is ’n geveg wat God reeds gewen het. Mens gaan nie ’n oorlog binne sonder wapens nie, en vir ’n geestelike oorlog het jy geestelike wapens nodig. Hierdie wapens word gebruik om die vyand daaraan te herinner dat hy die verloorder, en jy meer as ’n oorwinnaar is. (Ef. 1:21; Kol. 2:15; 2 Kor. 2:14; Rom. 8:37)

‘Natuurlik leef ons in ‘n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.’ 2 Korintiërs 10:3-5

Ons het God se kragtige wapens tot ons beskikking. Dieselfde krag waarmee Jesus uit die dood uit opgewek is, is binne ons aan die werk (Ef. 1:19-20). Ons het ’n geestelike wapenrusting waarmee ons die vyand se aanvalle kan afweer (Ef. 6:12-17). En dan het ons ’n baie spesiale swaard: Die Woord van God.

‘Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.’ Hebreërs 4:12

Sorg dat jy saam met al die voorbereidings vir die nuwe jaar ook jou geestelike wapens opneem. Leer ken jou swaard en oefen om dit te gebruik. Dan kan jy as Christenstryder dapper voorwaarts gaan, want die oorwinning is reeds joune.

Geskryf deur Madeleine Venter