Volgens die HAT is ´n oksimoron ´n stylfiguur waarby twee teenoorgestelde begrippe met mekaar verbind word. Lewende dood. Ou nuus. Vrede in 2020. (So saam met die Coronavirus?) Vrede in 2021. (Wat van die gewelddadige opstande in KZN en Gauteng?) Vrede in 2022? (Te midde van die verskriklike oorstromings en die oorlog in Oekraine?) Kan jy dit selfs in dieselfde sin sê? Kan dit hoegenaamd iewers in dieselfde konteks staan? Vrede in ons tyd? Hier? Nou? Dit klink meer soos ironie, of selfs ´n infame leuen.
Vrede klink soos ´n feeverhaal. Dit klink soos ´n onmoontlike droom. Dit is ´n illusie, iets waarvoor ons op die beste maar kan hoop. En dit lyk nie asof dit in raadsale, vergaderings of in hofsale of met die regte wetgewing bereik gaan word nie.
Ook in ons eie lewens is vrede ´n vae werklikheid. Te midde van die prysstygings, geweldsmisdade, probleme met dienslewering, paaie en infrastruktuur, onderwys en die uitdagings van beurtkrag, loop die meeste van ons eerder met ´n gevoel van groeiende onrus rond. Daar is min rede vir enige gevoel van vrede.
En tog is dit niks nuuts nie. Ons spesifieke probleme verander dalk met die jare, en so saam met die tye, maar onderdrukking, onrus, opstande, onsekerheid en ontevredenheid is so oud soos die mensdom. Jesus erken dit wanneer Hy die volgende vir sy dissipels sê: “In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.” Daar sal oorlog, beurtkrag, vloede, vervolging en politieke onrus wees. En ons sal dit aan ons lywe voel. Maar hou moed, want Jesus het dit reeds oorwin. Hy het reeds daarvoor betaal.
In sy brief skryf Jakobus: “Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes.” Volmaakte vrede, dié vrede waarna ons hunker en soek, kan net by God gevind word. Ons sal dit nêrens anders kry nie. En as ons dit eers by God gekry het, kan niemand dit weer by ons wegneem nie. “Ek sal in vrede gaan lê en slaap,” skryf Dawid. “U alleen laat my veilig woon.” En later: “Ek het kalmte en rus gekry, soos ´n kindjie by sy moeder rus, so is my gemoed.”
Dawid het beslis nie aldag rede gehad om rustig en onbesorg te slaap nie. Saul het sy bloed gesoek. Hy was dikwels in die midde van oorlog gewikkel. En tog het Dawid vrede gevind. Hy het geweet dat hy dit nêrens anders as by God sal vind nie. En dat niemand dit by hom kan wegneem nie.
“Vrede vir julle,” het Jesus sy dissipels gegroet. Dit was verseker vir die groepie bang mans ´n oksimoron, ´n reuse teenstelling. Vrede? Hier? In die bovertrek waar hulle weggekruip het? Vrede te midde van vervolging en die Romeinse heerskappy?
En tog is dit ´n belofte, ´n feit, ´n waarborg, ´n geskenk. Dit is die vrede wat oor jou hart en gedagtes die wag hou, die vrede wat alle verstand te bowe gaan, die vrede wat nie afhang van jou omstandighede nie. Selfs in die tronk in Rome kon Paulus oor hierdie vrede skryf.
Vrede is ook ´n opdrag, ´n bevel. Dit is ´n werkwoord, iets wat ons aktief moet doen en glo. “Hoe mooi klink die voetstappe op die berge van hulle wat die goeie nuus bring en vrede en verlossing aankondig,” skryf die profeet Jesaja. “Hulle wat verkondig: ‘Ons God regeer’.”
Ons kan hierdie vrede verkondig, dit afkondig en daaraan vashou. Ons kan dit vir mekaar toebid met Paulus se woorde aan die gemeente in Tessalonisense. “Mag die Here, die Bron van vrede, self altyd en op elke manier vir julle vrede gee. Mag die Here met julle almal wees.” En ook in die wonderlike woorde van Aäron se seëngroet. “Die Here sal vir jou goed wees en vir jou sorg. Die Here sal jou raaksien en vir jou vrede gee. Die Here sal vir jou goedgesind wees en vir jou voorspoed gee.”
Vrede is nie ´n feeverhaal nie. Dit is ´n werklikheid vir almal wat in God glo, sy vrede hulle eie maak en dit aan die wêreld verkondig.
Vrede vir julle. Vrede in 2022. En ook daarna.