‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.’ Jakobus 3:17-18 (eie klem)
Om vrede lief te hê, beteken glad nie dat jy wegdeins van konflik of jouself laat hiet en gebied nie. Vredeliewende mense is nie lafhartig nie. Inteendeel, hulle is dapper genoeg om in Goddelike wysheid op te tree sodat vrede gehandhaaf kan word.
Hoe doen ’n mens dit? Paulus het hierdie raad aan die Efesiërs gegee:
‘Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.’ Efesiërs 4:2
Dit kom weereens neer op onselfsugtigheid – die sambreel waaronder al die ander eienskappe van Goddelike wysheid verstaan kan word – en dit sluit ook aan by sy waarskuwing aan Timoteus:
‘Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra.’ 2 Timoteus 2:23-24
Jy hoef nie die hele tyd jouself te laat geld, of jou idees op mense af te dwing nie. Jy hoef ook nie met almal wat van jou verskil te stry nie. ’n Stryery oor geloofsake dien geen doel nie. Op die ou end word dit net ’n toutrek kompetisie om te bewys wie se redenasie die sterkste is. Dit vernietig verhoudings en skeur kerke uitmekaar.
Nog ’n manier om vredeliewendheid prakties uit te leef, is deur nie ’n klakous te wees nie. Daar is ’n kort en kragtige vers in Filippense: ‘Doen alles sonder kla of teëpraat.’ Fil. 2:14
Vertrou liewer op die Here in alle omstandighede, sodat die vrede wat Christus gee sigbaar kan wees vir ander. Dit is ’n aansteeklike vrede. (Kol. 3:15; Joh. 14:27; Fil. 4:7)
Let hierdie week bietjie op na hoe jy optree. Loop jy dikmond rond oor kleinighede? Staan jy voor in die koor wanneer daar gekla of sleggesê word? Is jy vinnig om mense aan te vat wat van jou verskil?
As jy jouself betrap as skuldig aan enige van hierdie scenario’s, is dit miskien tyd om rustig by Jesus se voete te gaan sit, en hom te vra vir daardie Goddelike wysheid wat vrede bring.
Geskryf deur Madeleine Venter