Omdat Augustus ook Vrouemaand is, het ek besluit om hierdie week stil te staan by ’n besonderse profetes uit die Ou Testament.
Ons weet van Miriam, Moses en Aaron se suster, en Deborah – die enigste vroue Rigter. (Eks. 15:20; Rig. 4:4) Dan was daar Anna, wat dag en nag in die Tempel gebid het (Luk. 2:36-37), asook die vier dogters van Filippus, waarvan ons in Handelinge 21:9 lees.
Ek wil egter fokus op ’n minder bekende profetes. Haar naam was Gulda, en sy het geleef in die tyd van koning Josia.
Josia was maar net agt jaar oud toe hy koning van Juda geword het. Afgodery was aan die orde van die dag, die Tempel was vervalle, en niemand het meer God se wet onderhou nie.
As jongman het Josia egter opdrag gegee dat die Tempel herstel moes word. Dit het tot gevolg gehad dat die wetboek in die Tempel ontdek en aan Josia voorgelees is. Toe die koning alles hoor wat in die boek staan, het hy sy klere geskeer en sy amptenare gestuur om die Here namens hom te raadpleeg.
‘Gilkija en die manne van die koning is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon. Hulle het haar vertel waarom hulle gekom het, en sy het geantwoord: “Ek het ‘n boodskap van die Here die God van Israel. Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het: So sê die Here: Ek bring onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, die volle straf soos dit opgeteken staan in die boek wat aan die koning van Juda voorgelees is,’ 2 Kronieke 34:22-24
Daar is twee punte uit hierdie gedeelte wat ek graag wil uitlig.
Eerstens, is dit opvallend dat die amptenare geweet het hulle kan na Gulda toe gaan om die Here te raadpleeg. Dit moes dus algemeen bekend gewees het dat sy ’n profetes is.
Tweedens, dra sy God se boodskap oor soos wat dit aan haar gegee is – al was dit glad nie goeie nuus gewees nie. Sy was nie bang om die waarheid bekend te maak nie.
As vrou van God kan jy baie by Gulda leer oor gehoorsaamheid aan die Here en die uitleef van jou Godgegewe roeping.
Gulda sou heel waarskynlik nie as profetes bekend gewees het as sy nooit geprofeteer het nie. In ’n era waar daar van vroue verwag is om stil en op hulle plek te wees, moes dit nogal ’n uitdaging gewees het. Daarby, het sy God se boodskap suiwer verkondig en nie net gesê wat mense wou hoor nie. Miskien het dit haar baie ongewild onder sommiges gemaak, maar die guns van mense was nie haar eerste prioriteit nie.
Net soos Gulda, het jy ook ’n Godgegewe roeping wat jy nie onder ’n emmer mag wegsteek nie. Laat jou lig helder skyn, vrou van God. Jou rol in die Koninkryk is baie meer werd as wat jy ooit sou kon droom.
Geskryf deur Madeleine Venter