‘Ja, al is die Here hoog verhewe, Hy gee om vir die nederige, maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige.’ Psalm 138:6

Jesus het sy dissipels keer op keer aangemoedig om nederig te wees. Hy sê dat die grootste onder hulle bereid moet wees om ander te dien. Verklaar dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien. En sê dat hulle mekaar se voete behoort te was soos wat Hy hulle voete gewas het. (Mat. 23:11; Mark. 10:45; Joh. 13:14)

Dwarsdeur die Bybel kry ons die konsep van hoogmoediges wat verneder word en nederiges wat deur God opgehef word. (Ps.113:7-8; Spr. 29:23; 1Pet. 5:5)

Jesus het ook aan sy dissipels die volgende raad gegee:

‘“As julle na ’n bruilof genooi word, moenie altyd die beste plek uitsoek nie. Wat as daar iemand belangriker as jy ook genooi is? Die gasheer sal sê: ‘Laat hierdie persoon asseblief hier sit.’ Dan sal jy met ’n rooi gesig opnuut moet plek soek – aan die end van die tafel! “Maak liewer so – sit aan die end van die tafel. Dan, wanneer die gasheer jou sien, sal hy kom en sê: ‘Vriend, ons het ’n beter plek as dit vir jou!’ Dan sal jy voor al die ander gaste vereer word; want die hoogmoediges sal verneder word, maar die nederiges sal vereer word.” ‘ Lukas 14:8-11 NLV

Om te kan waak teen hoogmoed, moet ’n mens weet wat presies dit is.

Jesaja 14:11-15 en Esegiël 28:12-18 verwys simbolies na Satan, en volgens hierdie gedeeltes was sy sonde hoogmoed.

Ten spyte daarvan dat God hom geskep het, en ten spyte daarvan dat dit God was wat hom die krag en skoonheid gegee het wat hy besit het, wou hy die eer en erkenning vir homself hê.

In plaas daarvan dat hy God aanbid het met die gawes wat Hy hom gegee het, wou hy self aanbid word. Hy was ’n weerspieëling van God se heerlikheid en glorie, maar het homself as glorieryk beskou.

Dít is die sonde van hoogmoed.

Sondige trots is wanneer jy nie erken dat jou prestasies ’n bewys van die ongelooflike skeppende krag van God is nie.

Dit is nie verkeerd om trots te wees op jou prestasies nie, solank jy besef en erken dat jy dit nie sonder God sou bereik het nie. Jy is wie jy is omdat Hy jou geskape het. Jy weerspieël sy heerlikheid.

‘Daarom, soos daar geskrywe staan: “Dié wat wil roem, moet in die Here roem.”’ 1 Korintiërs 1:31

Gaan lê die week al jou prestasies voor sy voete neer en gee Hom die eer daarvoor.

Geskryf deur Madeleine Venter