MATTEUS 13:1-9, 18-23 (2020-vertaling)

Hoofstuk 13 is die derde van die vyf diskoerse waaruit Matteus se vertelling oor Jesus se bediening bestaan (hfste 5-7, 10, 13, 18 en 23-25). Die stories in dié lang hoofstuk trek alles saam wat die Evangelis tot hierdtoe meegedeel het én wys vooruit op wat nog moet gebeur. In ons Skrifdeel speel Jesus se diskoers in ’n nuwe ruimte af; ’n boot op die see terwyl die skare op die strand bly staan het om na Hom te luister. Jesus vertel sy gelykenis van die saaier in die openbaar aan ’n “groot skare”, terwyl Hy sy verduideliking en onderrig oor gelykenisse slegs met sy dissipels deel (vers 10-11). Volgens vers 34 het Jesus nog gelykenisse met die skare gedeel, maar hulle weer weggestuur (vers 36). Matteus onderskei (vers 11-17) tussen die passiewe skare (‘unresponsive’) en die dissipels aan wie Jesus alleen verduidelikings bied.

Die gelykenisse in Matteus 13 is bekend as koninkryksgelykenisse, met die onderskeid tussen die dissipels en die passiewe skare wat deur al die gelykenisse loop. Ook ons gelykenis handel oor die ontvangs van en toegang tot die koninkryk van die hemel. Die sentrale tema van die gelykenisse is hoe mense reageer op die prediking oor God se koninkryk. Dit is onverklaarbaar dat sommige mense onaangeraak bly deur die lewensbelangrike openbaring van die koninkryk van God wat vir hulle aangebied word deur die kragtige verkondiging van Jesus Christus. Dit is hierdie misterie wat die groep gelykenisse wil verklaar.

Die punt van die gelykenis van die saad en die saaier lê nie in die eerste plek in die kwantiteit van die opbrengs of die uitkoms vir die saad nie. Dit gaan selfs nie primêr oor die saaier van die saad nie. Sy identiteit kom ook nie aan die lig in die opvolgende gebeure nie. Die klem val eerder op die saad en die verskillende tipes grond waarop die saad val. Die bedoeling van die gelykenis met die beskrywing van die vier tipes, is om hul uiteenlopende vlakke van ontvanklikheid vir wat hulle hoor, aan die lig te bring. Almal hoor immers presies dieselfde woord, terwyl elke tipe geïdentifiseer word op grond van wat op ’n spesifieke plek gesaai is. Matteus gebruik volgens geleerdes die uitdrukking “die woord van die koninkryk” net hier (vers 19) in sy hele evangelie.

In die konteks van Jesus se bediening dien die gelykenis van die saaier as verduideliking waarom die goeie nuus van die koninkryk sulke uiteenlopende reaksie ontlok, soos in hoofstuk 11-12 uitgewys is. In ons Skrifdeel kom luister die skare na Jesus se verkondiging van die “woord van die koninkryk”, omdat hulle gehoop het Hy sou meer vertel oor die weg waarlangs die een, ware God begin het om hulle daadwerklik en onmiddellik te red van hul vyande en hoe hulle deel kon neem aan God se verlossingswerk. Die storie wat Jesus vertel was egter nie wat hulle verwag het nie. Dit was nie ’n storie oor God wat Israel in hul eie land gesaai en hulle vehef het tot die soort grootheid waaroor hulle altyd gedroom het nie. Nee, dit was ’n storie oor beide mislukking en sukses. Die gehoor sou moes dieper en verder dink oor Jesus se uitspraak: “Laat dié wat ore het, luister!” (vers 43).

N.T. Wright meen Jesus se gehoor kon redeneer God het met verloop van tyd konings, profete en priesters gestuur om hulle te red. Geen van die vorige gestuurdes kon egter doen waarvoor God hulle gestuur het nie. Nou stuur God iemand wat uiteindelik vrugte sal oplewer. Dit sou nou werklik goeie nuus wees, maar in Jesus se vertelling gaan tweederdes van die saad verlore. Sy onderliggende boodskap was dat dit waarvoor Israel gehoop en gebid het, nou inderdaad vervul word. Jesus beklemtoon Hy is juis hier om die hoop op redding te realiseer. Ja, julle sal dit moeilik verstaan, gee Jesus toe. Maar, luister fyn en besluit oor die woord van die koninkryk. Die gelykenis daag elkeen uit om dié waarheid met Jesus uit te klaar.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Sewende week in Koninkrykstyd – Jaar A