Na aanleiding van Psalm 121 (lees 2020-vertaling)
Here, in die tweede week van Lydenstyd in die Christelike Jaar, ontstem die media ons met nuusberigte van nuwe oorloë in ’n wêreld wat reeds steier onder langdurige gewapende optrede van agressors; selfs teen weerlose vroue en kinders van lande wat nie aan die eise van onderdrukkers wil toegee nie.
Wanneer ek in Lydenstyd reflekteer oor die stand van sake in ons leefwêreld, Here, en ek onthou dat U moes ly om sondaars met God te versoen, moet ek myself ernstig ondersoek om die lewensgevoel wat binne my ontwaak, te peil. Die vraag van die psalm resoneer diep in my: “Waar sal my hulp vandaan kom?”
Here, in die konteks van ’n strydlustige wêreld waarin leiers na wapens gryp om verskille by te lê, hoor ek die psalmis se vraag as verwoording van ’n bang lewensgevoel wat sy lewensreis in vrees dompel. As gelowige spreek ek saam met die psalmis ook my bang gemoed in gebed voor U uit: Vanwaar kom my hulp?
Ek voel aan die psalmis verwoord met dié vraag ’n ervaring van beide oormag en onmag, Here. Die uitdagings op sy pad is talryk en hy het hulp nodig om dit te kan hanteer. Dit is waarna ek en my generasie smag. Ons soek hulp, ’n helper in die vyandige wêreld waar onheil daagliks vele gesigte vertoon.
Dankie dat ons in Lydenstyd geleentheid kry om ons oë opnuut op U te rig, Here. Dankie vir die perspektief dat ons dieper kan sien as die volksgeloof oor die berge as tuiste vir bedreigings en die hemelligame as gode wat mag oor ons uitoefen. Dankie vir u openbaring van nuwe moontlikhede: My hulp is van die Here!
Here, as wêreldse maghebbers wedywer om mekaar te oorheers en te vernietig, gee die geloofsperspektief dat U hemel en aarde gemaak het, my moed. Te midde van die daaglikse warboel van ons aardse bestaan, het ek hoop vir die reis waarop U my neem. U is my beskermer en skaduwee aan my regterhand. U slaap nie.
Here, terwyl Lydenstyd ons uitnooi om oor sonde en dood na te dink, wek dit ook ons harte op om die nuwe toekoms te sien wat U in Christus geopen het. Die Ou-Testamentiese gelowge getuig só oor u troue liefde: “Die Here sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm van nou af en vir altyd.” Daaruit wil en kan ek leef!
Amen
Geskryd deur Dr Eddie Orsmond