MATTEUS 14:22-33 (Lees die 2020-vertaling)
Revised Common Lectionary neem ons na ’n tweede verhaal in die vierde hoof deel (13:54 tot 19:1 of 2) van Matteus se vertelling oor Jesus se bediening. In dié deel het Jesus begin om geleidelik te onttrek van die openbare interaksie en Hom doelbewus tot sy kleiner groep dissipels gewend om hulle geloof te vorm. Die toneel van ons Skrifdeel volg direk op Jesus se eerste vermeerdering van brood en vis (14:13-21). Ons het gehoor Jesus het onttrek na ’n eensame plek om Hom af te sonder, maar die skare het Hom gevolg. Hy het hulle jammer gekry en sy dissipels opdrag gegee om vir die skare (vyfduisend mans alleen, uitgesluit vrouens en kinders) iets te ete te gee. Met vyf brode en twee visse het Jesus die skare gevoed sodat daar twaalf mandjies brokstukke oorgebly het.
Matteus 14:22-33 bestaan uit vier tonele wat elkeen sterk temas en begrippe bevat. Vers 22-23 vertel dat Jesus met dringendheid begin optree het nadat Hy die skare gevoed het. Volgens die 2020-vertaling het Jesus die dissipels verplig om in die boot te klim en na die oorkant van die see te vaar. Jesus het self die skare weggestuur en Hom daarna afgesonder, soos sy plan was voordat die skare by Hom aangesluit het. Jesus het teen die berg opgegaan om te bid. Matteus beklemtoon dat Jesus daar alleen was, maar ook dat dit aand geword het. Die afronding van Jesus se voedingswonder en sy afsondering wek nadenke.
Die tweede toneel (vers 24-25) van ons Skrifdeel lê klem op die boot waarin Jesus die dissipels weggestuur het. Die boot was al ’n redelike afstand van die land af en daar het ’n wind oor die see gewoed wat die boot heen en weer geslinger het. Die dissipels was uitgelewer aan die krag van die wind op die see. Matteus skryf niks oor hulle optrede in die boot tydens die tierende wind op die see nie. Hy vertel wel dat Jesus in die vierde nagwaak (tussen 3:00 en 6:00) na hulle toe aangeloop gekom het op die see. Hulle was al ’n geruime tyd op die water en in die storm. Eers op dié punt beskryf Matteus die dissipels se emosionele reaksie, maar nie vanweë die storm nie. Hulle het vreesbevange geraak toe hulle die figuur (Jesus) op die water na hulle sien aankom. Die dissipels het gedink “dit is ’n spook” en hulle het van angs begin skreeu (vers 26). Hulle het Jesus nie herken nie!
Die derde toneel (vers 27-31) vertel van Jesus se interaksie met sy dissipels in die boot. Soos Jesus die skare jammer gekry het (14:14) wat agter Hom aangeloop het, word sy gees ook geroer deur die vreesbevange dissipels in die boot op die water te midde van tierende wind. Jesus stel die vreesbevange dissipels gerus deur hulle te verseker dat dit Hy is, Jesus, wat na hulle toe kom. Hy het hulle gerusgestel en bemoedig met die woorde om nie langer bang te wees nie. Petrus was egter nie oortuig nie en wou sekerheid kry oor die figuur op die water se identiteit. Hy het Jesus nie herken nie en wou bewyse hê dat die figuur op die water inderdaad Jesus is. Jesus nooi Petrus uit om sekerheid te kry en Hom te herken.
Ons lees dat Petrus uit die boot geklim en na Jesus toe begin stap het, maar toe bang geword en begin sink het. Terwyl Petrus sink het hy na Jesus om hulp geroep: “Here, red my!” (vers 30). Jesus het vir Petrus gegryp en hom berispe oor sy kleingelowigheid. Ons het al baie gedagtes oor hierdie verhaal gehoor. Vir hierdie rondte is ek getref deur gedagtes oor herkenning van en vertroue op die Een wie ek herken en erken as my Here. Daarom is die sleutel vir die verstaan van hierdie verhaal (vierde toneel) volgens dié interpretasie, die belydenis van die dissipels in die boot: “Waarlik, U is die Seun van God!”. Ons het nie almal geleentheid om voedings- en natuurwonders te beleef nie. Is die punt van Matteus se vertelling dan nie juis dat ons Jesus in elke situasie sal herken nie – as die Seun van God en om op Hom te vertrou?
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Elfde week in Koninkrykstyd – Jaar A