‘Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.’ Miga 7:7
Niemand hou daarvan om te wag nie. Of dit nou ’n kort rukkie se wag by die kassiere, of ’n langer wag by die dokter is. Dae se wag op mediese uitslae. Of maande en jare se gewag vir ’n deurbraak. Om te wag is nie lekker nie.
Dit is om hierdie rede dat mens maar moeilik sluk aan die Skrifgedeeltes wat ons aanmoedig om te wag.
Ons lees van heelwat mense in die Bybel wat moes wag. Josef moes vir twaalf jaar in die tronk wag voordat die droom wat God aan hom gegee het sou waar word. Abraham en Sarah het 25 jaar lank gewag vir die belofte van ’n nageslag om in vervulling te kom. Dawid moes nog 15 jaar wag om koning te word nadat hy deur Sameul gesalf is. En so is daar nog baie ander voorbeelde van groot Bybelse figure wat geduldig moes wag op die vervulling van God se beloftes.
Die groot vraag is natuurlik, waarom? Om watter rede laat God ons soms wag?
Ek glo dit gaan oor die Here se perfekte tydsberekening. Hy sal nooit iets laat gebeur as die tyd en omstandighede daarvoor nog nie reg is nie.
In Psalm 5:4 staan daar ook: ‘U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.’ (eie klem)
Let op na wat die Psalmdigter hier sê. Hy noem dat God na sy stem luister in die môre. Ons kan dus hieruit aflei dat dit die tyd is wanneer hy bid. Dan voeg hy by dat hy op God wag. Wanneer laas het jy tydens jou stiltetyd nie net gebid nie, maar ook op God gewag?
Ek weet ek is skuldig, en ek dink meeste van ons is. Daar is net eenvoudig nie tyd vir wag nie.
Wanneer jy met iemand praat, wag jy gewoonlik dat hulle reageer op wat jy gesê het. Net so moet ons wag vir God om te reageer tydens ons stiltetye. Hy wil jou dalk bemoedig met ’n Skrifgedeelte, of herinner aan ’n belofte. Jou gemoed rustig maak, of deur die Heilige Gees vir jou insig en wysheid gee.
Om op God te wag is nooit verspilde tyd nie. Dit is ’n tyd waarin groei en verandering plaasvind. Dit is die tyd waarin jou geloof versterk word.
Fabienne Fredrickson het gesê: “The day you plant the seed is not the day you eat the fruit.”
So, wag geduldig op die Here. Jy kan verseker weet dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie.
Geskryf deur Madeleine Venter