MATTEUS 13:24-30, 36-43 (2020-vertaling)

Revised Common Lectionary vertoef ’n tweede week by Matteus 13 se bondel gelykenisse van Jesus oor die koninkryk van die hemele. Ons Skrifdeel is deel van die derde diskoers in Matteus se vertelling oor Jesus se bediening (hfste 5-7, 10, 13, 18 en 23-25). In ons Skrifdeel speel Jesus se diskoers in twee ruimtes af. Jesus is in die boot (vers 2) vir die gelykenis oor die onkruid tussen die koring (vers 24-30). Vir die uitleg van dié gelykenis (vers 37-42) verskuif Jesus en sy dissipels na die huis (vers 36) vanwaar Hy in vers 1 na die see vertrek het. Jesus verklaar die gelykenis slegs aan sy dissipels (vgl. vers 10-11), nadat Hy die skare weggestuur het (vers 36). Matteus onderbreek die gelykenis en uitleg met twee ander gelykenisse (die mosterdsaadjie en suurdeeg, vers 31-33) en Jesus se verduideliking oor sy gebruik van gelykenisse (vers 34-35). Gemeenskaplik in dié gelykenisse is temas van groei en wag. Die koninkryk van die hemele kom gelydelik soos wat koring en onkruid groei (ook mosterdsaad ’n boom word en suurdeeg meel deursuur).

Ons gelykenis het betrekking op die landbou omgewing en vertoon ’n bi-polêre struktuur: koring en onkruid; eienaar en vyand; saai van goeie saad en van onkruid. Die toneel is ’n stuk land op ’n plaas waar die hele groei proses plaasvind, vanaf saai tot oes. Die handeling wat Jesus beskryf is die saai van koring saad en die oes daarvan deur verdeling (skeiding), aangesien die eienaar koring saai en die vyand onkruid kom saai op dieselfde land, terwyl almal slaap. Daar is beide medewerkers van die eienaar, sy diensknegte en maaiers (snyers of oesters) én opposisie vir die eienaar (vyand). Die objek wat bewerk word is saad (koring en onkruid), terwyl die doel met die aktiwiteit is om ’n goeie koringoes te lewer.

Vanuit Jesus se vertelling van die gelykenis kom sekere onderliggende motiewe aan die lig. Daar is inherente kontraste tussen die objekte wat bewerk word (koring vs. onkruid) en tussen die handelende subjekte (eienaar vs. vyand). Die ontleding van die elemente van die gelykenis toon dat die fokus op die saam bestaan (coexistence) van die koring en die onkruid is. Die eienaar is egter deurentyd bewus van die kontraste en besef daar moet in die toekoms ’n skeiding tussen die objekte gebeur. Die eienaar verwerp die slawe se voorstel van ’n vroeë skeiding tussen die koring en die onkruid. Hy kies dat skeiding met die oes plaasvind. Volgens Jesus se uitleg is die oes ’n geskikte metafoor vir die finale oordeel (vers 40-42).

Jesus verduidelik die gelykenis aan die dissipels alleen in die huis, op hulle versoek (vers 36). Eers werp Hy meer lig op die sewe samestellende elemente van die gelykenis (vers 37-39): saaier van die goeie saad; grond; goeie saad; onkruid; vyand; oes; maaiers (snyers). Dan handel Jesus oor die skeiding by die finale oordeel (vers 40-43). Die klem is primêr op die aktiwiteit van saai en die finale skeiding tussen regverdiges en kinders van die Bose. In sy uitleg beklemtoon Jesus die kontraste tussen die Seun van die Mens teenoor die Duiwel, regverdiges teenoor goddeloses, asook die ewige koninkryk teenoor die ewige oordeel. Jesus bring die koninkryk van die hemele na hierdie wêreld, terwyl die duiwel terselfdertyd dié wêreld betree. Daarom is dit moeilik om altyd duidelik tussen die twee te onderskei in die praktyk van ons lewe.

Uiteindelik sal die Regter (Jesus Christus) die twee objekte (koring en onkruid) skei op grond van die vrug wat hulle dra. Skeiding is onafwendbaar: die bose sal ewig vernietig wees en die regverdiges vergoed word. Ons word opgeroep om geduldig te wag op Jesus se beslissing. Ons moet voortgasan om as sy medewerkers te dien, saam met ander wat die wêreld met ons deel. God is geduldig, ook met hulle wat Hom nie wil erken nie. Hy sal oordeel. Ons moet leer wag en aanhou getuig dat die koninkiryk van die hemel op hande is.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Agste week in Koninkrykstyd – Jaar A