‘Van toe af het die Here die huis van die Egiptenaar geseën. Dit was oor Josef dat die Here dit gedoen het. Die seën van die Here het gerus op al Potifar se besittings, dié in sy huis en dié in die veld.’ Genesis 39:5
Van die oomblik wat Josef deur Potifar in diens geneem is, het sy hande duidelik vir niks verkeerd gestaan nie. Die Here het saam met hom gewerk, en alles wat hy aangepak het laat slaag. (Gen. 39:2-4)
Wanneer ons binne God se wil leef, beweeg ons saam met die Gees. Die Gees is kreatief. Die Gees het insig en wysheid. Hy gee nuwe lewe, en skep orde. (Gen.1:2; Kol.1:9; Joh. 6:63; 1 Kor. 14:33)
In watter beroep jy jou ook al bevind, nooi God saam werk toe. Laat Hom toe om jou vaardighede op te skerp. Onthou, Hy het jou daarmee toegerus vir ’n rede. Wanneer jy Hom dus toelaat om saam met jou te werk, sal Hy sorg dat dit juis vir daardie rede aangewend word.
In Eksodus lees ons van so ’n geval:
‘Die Here het ook vir Moses gesê: “Ek het Besaleël, die seun van Uri en kleinseun van Gur uit die stam van Juda, gekies. My Gees gee vir hom die kennis, begrip en vaardigheid om verskillende dinge te kan maak. Hy kan kunstige voorwerpe uit goud, silwer en brons maak. Hy kan edelstene graveer en monteer en houtsnywerk doen. Hy kan enige kunswerk maak. “Ek het ook Oholiab, die seun van Agisamak uit die stam van Dan, gekies om saam met hom te werk. Ek het aan verskillende manne wat oor die kennis beskik die vaardigheid gegee om al die dinge te maak wat Ek vir jou gesê het.’ Eksodus 31:1-6 (NLV)
Wanneer ons na hierdie gedeelte kyk, sien ons dat dít waarvoor God hierdie manne gekies het, nogal baie gespesialiseerde werk was. Vaardighede wat oor baie jare aangeleer en ingeoefen moes word. God het dus saam met hulle gewerk in dit waarin hulle reeds goed was, sodat dit net nog beter kon wees – nee, sodat dit presies kon wees soos wat Hy dit wou hê.
God wil saam met jou ook werk. Hy het aan jou spesifieke gawes en talente gegee wat jy tot eer van sy Koninkryk kan aanwend. Laat die Heilige Gees toe om die leisels oor te neem, dan sal jy ook tot seën vir ander wees, net soos wat Josef ’n seën vir Potifar was.
Geskryf deur Madeleine Venter