Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Niemand is immuun teen die lewe se storms nie.

As jou lewe nie op ’n sterk fondasie gebou is nie, kan alles baie maklik in duie stort wanneer daardie onvoorsiene dinge gebeur. Lê jou sekuriteit in ‘n beroep, titel, of geleerdheid? Dalk selfs in ’n persoon, of ’n plek? Dink mooi. Hierdie is alles feilbare dinge wat binne ’n oogwink kan verander.

In die Kendrick Brothers-fliek Overcomer, word die hoofkarakter gevra om te verklaar wié hy is. Sy heel eerste antwoord is dat hy ’n basketbal-afrigter is – ’n teer saak, aangesien hy pas daardie rol verloor het. Dit maak hom dan nou die nuwe landloop-afrigter van die skool. As die landloop-seisoen verby is, is hy nog steeds ’n onderwyser. Indien die skool dalk sou toemaak, wel, hy is darem sy vrou se man en sy twee seuns se pa. En sou iets met sy gesin gebeur, wie sou hy dan wees? Hier het hy begin besef dat sy identiteit in al die dinge lê wat besig is om verby te gaan. Sy heel eerste antwoord moes gewees het dat hy ’n Christen is. Die eie-ek-fondasie is nie ’n baie sterk fondasie nie.

Wanneer jy egter jou lewe op die Rots bou, sal jy staande kan bly, al gee die aarde onder jou pad.

Luister na hierdie mooi getuienis uit Psalm 46:2-4:

‘God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela’

In 2 Korintiërs 1:21, sê Paulus dat Christus daardie Rots is. Hy is die vaste grond waarop ons as gelowiges gevestig is. Hy is gister, vandag, en tot in ewigheid dieselfde. (Heb.13:8)

En, in Matteus 7:24-25, sê Jesus ‘Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.’

Wanneer Jesus jou fondasie is, sal jy nie so maklik toegee aan jou sondige natuur nie, want jy laat jou deur die Gees lei. Jy sal ook nie so maklik aanstoot neem oor kleinighede nie. Die dinge waaroor ’n mens aanstoot neem, is gewoonlik ’n weerspieëling van iets waaroor jy onseker voel. Vind daarom jou identiteit hierin: ‘… God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.’ Efesiërs 2:10

Maak hierdie week ’n punt daarvan om te gaan dink oor die fondasie waarop jy besig is om jou lewe te bou, en maak seker jy staan stewig op die Rots.

Geskryf deur Madeleine Venter