Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

‘Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom. Ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie. Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het.’ Psalm 69:2-3

Die kanse is goed dat jy jou ook al in so ’n situasie bevind het. Miskien is jy juis nou in diep waters. Jou voete kry nie meer grond nie. Die water is al tot by jou keel.

Die beste ding om in so ’n geval te doen is, om soos Dawid, na God uit te roep: ‘Red my uit die modder, dat ek nie wegsak nie, laat my wegkom van my vyande af, weg uit die diep waters. Moenie dat die stroom my meesleur en die diep water my insluk nie, en moenie dat hierdie put toegaan bokant my nie.’ Psalm 69:15-16

Jy sien, hierdie wêreld kan maar ’n donker plek wees. Daar is tye wanneer dit vir ons voel asof die nag nooit gaan eindig nie. Asof die boosheid seëvier. Asof die put bokant ons besig is om toe te gaan.

Die goeie nuus is egter, dat die nag vir God so goed soos lig is. Hy ís lig, en Hy het jou uit die mag van duisternis gered. (Ps. 139:12, 1 Joh. 1:5, Kol. 1:13)

Jesus sê in Johannes 12:45: ‘Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.’ Johannes 12:46

Jy hoef nie in die donker te sit en mismoedig te voel nie. Jou situasie is nie hopeloos nie. Jy behoort aan die lig en duisternis kan nie lig uitdoof nie.

Lig laat ’n mens veilig voel. Wanneer daar lig is, kan jy potensiële gevaar raaksien waarvan jy nie sal weet terwyl dit donker is nie. Net soos wat ’n ligtoring keer dat skepe tydens ’n donker nag op die rotse loop.

Jesus het aan ons die opdrag gegee om só ’n lig vir die mensdom te wees. Dis nie ’n maklike taak wanneer jy soms self voel asof jy in die donker rondtas nie. Weet egter, ’n lamppit wat dof brand, sal Hy nie uitdoof nie. (Jes. 24:3) Jy mag die Heilige Gees vra om die vlam binne jou weer aan te blaas.

Wanneer dit dus vir jou voel asof die wêreld te donker raak, onthou Efesiërs 5:8: ‘Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig.’

Mense van die lig is nie bang vir die donker nie. Skyn.

 

Geskryf deur Madeleine Venter