“But death, death doesn’t enter abruptly when life is over, death is present in all of creation every step of the way.” -Rob Bell
As ek rondom my kyk, sien ek hoedat mense – oud en jonk – jaag na genoeg. Ons word van kleintyd af geleer om meer te soek en meer te vermag.
Wanneer is ek dan tevrede met dit wat ek het?
‘’Dit gaan net nooit ophou nie’’, het ek geprewel terwyl ek weereens 23:30 huis toe ry, nadet ek personeel gaan aflaai het.
By die huis is my vrou, die liefde van my lewe, met twee klein seuntjies wat wag vir Pappa om huis toe te kom. Sy slaap rustig toe ek in die kamer kom, die bedlampie aan my kant is aan, my kussings is reg, my slaapklere is reg en daar is ‘n tjoklit op my kussing. Here help my, prewel ek sag terwyl ek vir beide seuns ‘n soen gaan gee en in verwondering staan oor die wonder van lewe.
Here waarom jaag ek so na meer en meer, wanneer gaan genoeg dan nou genoeg wees?
“Dit IS JOU BESLUIT….”
Jy sien, alles in die lewe word ‘n kompetisie. In alles word ons aangespoor om net meer en meer te doen. Om dryfkrag en motivering te hê is goed, maar wanneer is genoeg nou genoeg? Om geld te hê is great, maar wanneer is genoeg nou genoeg?
Rob Bell, in sy nuwe boek: “Everything is Spiritual”, waaruit die boonste aanhaling kom, het my denke aan die gang gesit. As dood dan altyd deel is van ons, altyd saam met ons loop moet ek myself vra wanneer genoeg nou genoeg is. Ek moet vrede maak met die wete dat elke uur my laaste uur op hierdie aarde kan wees en ophou om te spaar vir die dag wat ek oud is. Met my persoonlike gejaag na nog meer besef ek in die laaste 14 maande dat ek oorgenoeg het. Iewers moet ek begin besef dat as alles ook genoeg is, het ek die opdrag om die genoeg te gebruik, te geniet en myself te wees te midde van die genoeg.
COVID het die aarde en alles daarop in splinternuwe perspektief vir my geplaas. Aan die een kant het ek besef dat ek genoeg het en aan die anderkant het ek besef hoedat vrees besit geneem het van mense en myself. Ons beleef as mensdom hoe naby dood werklik aan ons is, hoe kort die lewe is en dat ek niks daaraan kan doen nie.
Dood is onomwonde deel van elke dag.
Die dryf om meer en meer te bekom en te besit, is ook.
Hier in ons mooi plattelandse dorp in die Overberg, het ek die impak van onsekerheid en siekte gesien werk. Kleinsake ondernemings het hulle deure permanent gesluit en mense het werk, kos en hoop verloor. Aan die ander kant het ek gesien hoedat geleenthede, nuwe idees posgevat het en mense meer en meer gekry het en daar het hoop weer vlerke gekry. Ek myself was in die middel. Ons een besigheid het toegemaak en ons moes noodgedwonge twee restaurante saamsmelt vir oorlewing.
Angs het my meester geword vir ongeveer 8 maande, vrees vir dit wat kon gebeur het my uit die slaap gehou. Deure het weer oopgegaan, mense het bang uit hul doppe gekruip en weer kom kuier, kos is weer gemaak, maar die vrees wou nie verdwyn nie.
Angs en vrees oorheers.
Geloof, hoop en liefde staan op die agtergrond.
Ek moet harder werk, ek moet meer doen, ek moet, ons moet…vrees…angs…
Maar Here waar het ek die liefde, die geloof en die hoop verloor?
Ek het die beste, ek is die beste wat Hy kon maak, ek is die kroon op Sy skepping. Dit tref my soos ‘n nat masker op die gesig, ek het alles, want ek het Sy liefde, Sy krag wat binne my werk en kragtig werk.
Die realiteit is dat dit alles my keuse is en dat ek besluit wanneer genoeg nou genoeg is. Ek het tot die besef gekom dat die dag wanneer ek dit wat ek het, voluit geniet en die beste doen wat ek kan, daardie dag is genoeg wel genoeg. As ek iets goed doen, die beste doen wat ek kan, hoef ek nie dit meer en meer te maak nie. Ek hoef nie, want almal wie my pad kruis, gaan soveel hoop en liefde beleef, dit gaan hulle geloof bou en versterk…
En dit is mos genoeg – of hoe?
Om weer ure per dag minder te werk, maak ek dalk minder geld. Sou ek een van die ure gebruik om saam met my kinders krieket te speel, bergfiets te ry of net te stoei op die mat, is my hoop, my geloof en die liefde, verdubbel!
Die genade van leef en laat leef het my weer getref. Hoekom leef ek om eendag reg te wees vir die dood, terwyl ek elke dag se lewe mis? Ek moes my genoeg, weer evalueer en dit was moeilik, want vir elke persoon is die genoeg persoonlik en daarom verskil dit van mens tot mens.
Maar vir my:
Ek lewe,
ek het die voorreg om pa te wees van (nou) 3 amazing kinders,
ek stap elke dag langs die liefde van my lewe en by haar is ek veilig,
ek het 3 besighede waar ek mense kan dien en bedien,
ek het my eie huis en my eie motor, ‘n bus vir al die kinders.
En dit is vir my genoeg.
“Hou op kyk na ander en vra jouself die vraag: Waar het ek genoeg? Iewers is genoeg nou genoeg. Net jy sal weet wanneer dit is. Gaan leef die genoeg” – Wynand Olivier