Jy was sekerlik ook al in ’n situasie waar die regte woorde jou totaal ontbreek het?
Miskien toe jy iemand moes troos wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Of dalk wou jy iemand wat hoop verloor het moed inpraat. Daar was heel waarskynlik al ’n paar mense oor jou pad vir wie jy raad wou gee, maar nie geweet het hoe om dit te doen sonder dat hulle aanstoot neem nie. Of jy was selfs al in ’n posisie om die Evangelie te deel, maar jy kon nie enige Skrifgedeeltes onthou, of aan die regte woorde dink nie.
Dit is met sulke geleenthede wat jy moet onthou dat jy ’n Helper het.
Na die uitstorting van die Heilige Gees, het die volgelinge van Jesus met bonatuurlike wysheid en insig begin om die Evangelie te verkondig. Ons lees in Handelinge. 4:13 dat die Joodse Raad verbaas was oor Petrus en Johannes se selfvertroue omdat hulle maar ongeleerde en eenvoudige mense was, en in Handelinge 6:10 staan oor Stefanus geskryf:
‘Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie.’ Handelinge 6:10
Jesus het vooraf al belowe dat dit so gaan wees:
‘Maar wanneer hulle julle voor die owerhede bring, moet julle julle nie bekommer oor wat julle ter verdediging sal sê nie. Sê maar net wat God in daardie uur vir julle sal gee om te sê. Julle sal wel die woorde uitspreek, maar eintlik is dit die Heilige Gees wat deur julle praat.’ Markus 13:11 NLV
Dit is daardie selfde Heilige Gees wat jy ook ontvang het die dag toe jy jou hart vir die Here gegee het. Hy is nog steeds die Een wat die regte woorde in jou mond kan lê. Maar jy moet Hom toelaat om dit te doen.
Om met die Heilige Gees vervul te wees, beteken nie dat jy heeltemal oorgeneem word en geen beheer meer oor jou doen en late het nie. Jy moet ’n doelbewuste keuse neem om jou deur die Gees te laat lei.
Gereelde stiltetyd verskerp jou konneksie met die Heilige Gees en help jou om sy stem te herken.
Wanneer jy volgende keer weer in ’n situasie beland waar jy nie weet wat om te sê nie, mag jy maar die Gees vra om die woorde in jou mond te lê. Hy sal jou help.
Geskryf deur Madeleine Venter