Na aanleiding van Psalm 45 (lees 2020-vertaling)
Here, die inhoud van Psalm 45 laat my ’n bietjie kop krap. Dit is blykbaar ’n koninklike lied oor ’n bruilofsfees wat in die koninklike paleis afspeel. ’n Liefdeslied wat met mooi woorde die koning se lof besing. Ons ken nie dié koning nie, tog open die lied insigte op die huwelik as instelling.
Die skrywer van Hebreërs 1:8-9 pas ons psalm vrymoedig op Jesus Christus toe, Here. Daarvolgens wys die koning hier vooruit na Jesus se ewige troon en heerskap van geregtigheid. God het Hom gesalf met olie van vreugde. Jesus het geregtigheid lief. Tog peins ek oor die huwelik.
Here, my eerste aanvoeling is om dié Psalm messiaans te interpreteer, of selfs allegories, om geestelike betekenisse daarin op te diep. Maar, ek kies eerder die menings wat dié liefdeslied beskou as ’n lied vir die huwelik van ’n aardse koning, wat nie as ’n heilige regeer nie en gewone mense.
Die huwelikstema onderliggend aan die boodskap van dié lied, Here, herinner my aan kern aspekte oor die instelling van die huwelik, wat ek in gebed voor U wil bring. Terwyl ek met erns wil bid vir die huwelik en families van leiers, is daar uitdagings vir elke huwelikspaar in die lewe.
Die Psalmis praat oor dogters van konings wat hul plek in die koning se huishouding inneem, naas die koningin. Here, dis dalk nie vandag by ons praktyk dat mans meer as een wettige huwelik mag aangaan nie, maar ons hoor daagliks hoe mense (mans en vroue) nie trou is in die huwelik nie.
Die Psalmis raak nog ’n kwessie aan wat vandag selfs meer aktueel geword het as enkele jare gelede, Here. Hy noem dat die dogter haar ouerhuis en volk moet verlaat, selfs vergeet, ter wille van die huwelik. Dit betrek die tema oor aanpassings in die huwelik, elke huwelik. Kan ons dit doen?
Here, ek bid vir huwelikspare wat mekaar kies vir die lewe. Laat hulle mekaar se kom vandaan en menswees respekteer. Lei ons om ons huwelike te bou op respek vir mekaar. Wek in ons ’n opregte liefde vir geregtigheid, soos U die aard van u deernisvolle liefde in u Seun aan ons geopenbaar het.
Here, laat ons met blydskap en vreugde liedere sing oor u gawe van ons huwelike. Laat u liefde ons huwelike kenmerk.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – VYFDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD