Na aanleiding van Psalm 27:1-9 (lees 2020-vertaling)

Here, God wat my red, my Helper. Vandag kom my gebed op uit die woorde “vrees” en “bang”, wat in die gebed van Dawid opduik. Dié woorde herinner my aan ’n formulering wat ons tydsgewrig tipeer as ’n era van angstigheid.

As ek die psalmis se gebed lees, Here, hoor ek verskillende dinge wat by dié gelowige ervarings van vrees opgewek het. Hy noem verskeie faktore wat vir my ook beskrywend is van ’n kultuur van vreesagtigheid.

Here, die tydsgewrig waarin ek en my geslag lewe, vertoon dieselfde kenmerke as dié waaroor die bidder in sy gebed tot U nader. Hy praat van kwaaddoeners, teenstanders en leermagte wat opstaan en dreig om te ontwrig en te vernietig.

Wanneer ek na nuusberigte luister en mense se vertellings oor hul daaglikse ervarings hoor, Here, is dit asof die psalmis diep in my eie leefwêreld en psige inkyk. Saam met eksterne bedreigings kom ook persoonlike onsekerhede in ’n voortdurend veranderende wêreld.

Die Psalm nooi my uit om te midde van ’n kultuur van angstigheid, die vraag te beantwoord oor waarheen of na wie toe ek my wend wanneer die vrees en bang my verlam, Here. Hy herinner my aan U; my lig en my redder, toevlug van my lewe.

Daaarom kan en wil ek die raad van die psalmis volg, Here. Ek begeer gemeenskap met U en wil my gedagtes op U rig. Dit is daar waar U my in u sorgende teenwoordigheid laat skuil teen onheil en vir my beskutting bied teen vrees en angstigheid.

Here, ek wil u woorde gehoorsaam, u teenwoordigheid opsoek. In u teenwoordigheid besing ek u lof met uitroepe van vreugde. In u teenwoordigheid vervaag vrees en bangheid om plek te maak vir aanbidding tot en vertroue in U.

U, Here, is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek bang wees?

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

RCL JAAR A – DERDE WEEK NA EPIFANIE