Liefde – om lief te hê en deur iemand liefgehê te word – is ’n integrale deel van ons menswees. Daarsonder kan ons nie. Dit is dus geen wonder dat ons nie oor liefde uitgeskryf of uitgepraat kan raak nie. Liefde, ons ervarings en gebrek daaraan, inspireer steeds nuwe boeke, gedigte, flieks, toesprake, dramas, musiek en ander kunsvorme. Dit is die ink in ons woorde, die note in ons musiek en die verf op ons kwas. Dit is die bril waarmee ons na die wêreld om ons kyk. Dit bring perspektief. Daarsonder, waarsku Paulus, is ons werke ’n gebrabbel, ’n galmende drom of ’n klinkende simbaal. Sonder liefde sal dit wat ons elke dag doen, van niks en gener belang wees nie.
Om die begrip, liefde, saam te vat en uit te beeld, is geensins maklik nie. Soms is dit makliker om te erken wat liefde nie is nie.
Liefde is nie klein nie. Dit is groot. Groots. Allesomvattend. Dit strek bo-oor ons foute, ons misverstande, ons eng sienswyses. Dit bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan hoop en verduur. Dit hou nie boek van die kwaad nie, dis nie jaloers nie.
Liefde is ook nie (net) naby nie. Dit is nie slegs van toepassing op my binnekring, my hartsmense en my eie kultuur nie. Dit is ook ver. Alhoewel my liefde eerstens moet oorspoel na diegene met wie ek elke dag in aanraking kom en met wie ek saamleef, maak die liefde van hulle wat ver is, ook my naaste. Die liefde is vol medelye, dit reik uit na mense wat anders as ek dink of doen, mense wat ’n ander taal praat en dalk in ’n ander uithoek van die wêreld woon. Dit is nie eksklusief of beperkend nie, maar inklusief en groothartig.
Die liefde is nie lawaaierig nie, dit blaas nie sy eie beuel nie en is nie vol van homself nie. Soms werk dit só stil en onopsigtelik, dat die een hand nie weet wat die ander doen nie. Liefde staan nie voor in die koor wanneer lof uitgedeel word nie. Dit soek nie erkenning en huisves nie verskuilde agendas nie. Dit hou aan gee sonder om op vergoeding aan te dring.
Die liefde is nie bang nie. Dit is vreesloos, dapper, ondanks die teenkantings. Volmaakte liefde het immers nie plek vir vrees dit, maar dryf dit uit. Liefde is ook nie vlietend nie. Dit is nie van verbygaande aard nie, maar is seker, standvastig en betroubaar.
Die liefde sal nooit vergaan nie. Dit is nie ’n gevoel nie, maar eerder ’n aksie. Dit is nie staties nie, maar dinamies en veerkragtig. Dit is nie iets wat ons moet soek en vind nie, maar eerder iets wat ons moet gee. Veranderende tye, verhoudings en ’n veranderende wêreld vra dat ons soms op ’n ander manier moet liefhê, uitreik en ondersteun. Dit vra dat ons soms anders dink en doen. Maar dit vra beslis dat ons doen. Dit vra ook soms vuil hande, moeë voete en plat beursies. Dit vra dat ek buite myself en my eie belange sal dink en doen.
In die maand van liefde is dit lekker om die skoenlappers in jou maag en ’n tinteling in jou tone te onthou en te vier, maar dan met die verstaan dat dit maar ’n fraksie van die groter prent is. En dat die liefde wat die wêreld nou nodig het, waarna die mensdom hunker, ’n nugter en doelbewuste keuse verg. Ons moet treur oor onreg en ons verbly in die waarheid. Ons moet sag van hart wees, honger en dors na wat reg is en met ontferming uitreik na mense in nood. Ons moet die sout wees wat die aarde ’n beter plek maak, en die lig wat die donker verdryf. Laat ons mekaar dan liefhê, omdat Hy ons eerste liefgehad het. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar deur ons aksies kan sy liefde vir die wêreld duidelik sigbaar word.
Geloof. Hoop. Liefde. Hierdie drie sal soos ’n paal bo water bly staan, maak nie saak wat gebeur nie. En die grootste hiervan is en bly die liefde.