Ek kan myself verloor in ´n Bybelkonkordansie. Die kleurfoto’s, kaarte en ekstra aantekeninge kan ´n bekende verhaal nuut inkleur. Voor my ontvou Kapernaum, Kreta, die See van Galilea, ´n voorstelling van die tronk waar Petrus aangehou is en van Damaskus, met Reguitstraat – daar waar Ananias vir Paulus moes ontmoet. Die geskiedenis voel nader, meer werklik.
Verder terug in dié Bybel is foto’s van die onherbergsame Sin-woestyn, waar die Israeliete hulle geloofspiere moes bou. En die berg Nebo, waar God vir Moses ´n blik op die Beloofde Land gegee het. Dit was vir Moses ´n bevestiging van dit waarin hy geglo het. Hebreërs beaam hierdie geloof. “Moses het immers volhard, soos iemand wat die onsienlike God sien.”
Ek het onlangs stilgestaan by die slothoofstuk van die evangelie deur Markus. Volgens die oudste manuskripte eindig Markus by hoofstuk 16:8. “Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.” Die laaste teksverse, 9 – 20, het volgens Bybelkundiges later bygekom.
Dit lyk na ´n vreemde einde vir ´n evangelie. “Hulle was bang.” Net dit. Kenners het verskillende verklarings hiervoor. Miskien was daar ´n einde wat verlore geraak het. Sommige kritici glo selfs dat Markus dalk nie die volle verhaal van Jesus se opstanding geken het nie. (Iets wat natuurlik ten sterkste betwis word.) Een verklaring het my veral laat nadink. Hierdie einde deur Markus was dalk ´n oproep vir gelowiges. Dit het hulle, en ons, voor ´n keuse te staan gebring: gaan jy te midde van al hierdie onsekerhede ook bang wees, of gaan jy kies om te glo? Gaan jy volhard, soos iemand wat die onsienlike God sien?
Die dissipels en volgelinge van Jesus moes immers geweet het wat kom. Jesus het dit voor sy dood telkemale verduidelik. Die einde – sy einde – was nie die einde nie, dit was die begin. Dit was nie ´n ongeluk of ´n fout nie. Dit was ´n plan wat in die fynste besonderhede uitgevoer is. ´n Plan wat sy ontstaan tydens die skepping van die wêreld gehad het. Maar midde-in al hierdie gebeure was dit baie maklik om perspektief te verloor. Baie dissipels was bang. Baie bang. Só bang dat hulle in die bovertrek weggekruip het.
Ons moet ook kies hoe ons gaan reageer. Wat ons gaan sê, doen en glo. Want rondom ons is oorloë en gerugte van oorloë. Daar is rampe, natuurfratse, ontstellende nuus, skokkende nuus en onsekerheid. Dit is baie maklik om bang te wees en perspektief te verloor. Ons wil ook wegkruip, ons oë toeknyp. Soos Markus en sy lesers, weet ons egter wat gaan gebeur. Wat ons sien is nie buite beheer of buite God se hand nie.
Ons ken die geheim en die einde. Ons weet dat die stryd klaar gestry is. Dat die prys betaal is. Dat ons nooit bo ons kragte versoek sal word nie, dat ons nooit alleen stap nie en dat dit alles vir God se koninkryk ten goede kan meewerk.
Ons is nie onkundig nie. Ons kan kies om te glo. En enduit volhard. Soos iemand wat ´n onsienlike God sien en vertrou.
Geskryf deur Susan Goosen