”n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde so dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens.’ Spreuke 16:23-24
Daar is ’n welbekende akroniem:
Before you speak, THINK T Is it true?
H Is it helpful?
I Is it inspiring?
N Is it necessary?
K Is it kind?
As ons na die Bybel gaan kyk, sien ons dat dit presies is wat van ons as gelowiges verwag word. Paulus skryf in Kolossense 4:6: ‘Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.’ En in Efesiërs 4:29 sê hy dat ons net moet praat wat goed en opbouend is.
Die rede hiervoor, is omdat die woorde wat uit jou mond uit kom ’n direkte weerspieëling is van wat in jou hart aangaan. (Mat. 15:18-19; Luk. 6:45) Jy, as wedergebore Christen, het ’n nuwe hart gekry, en dit behoort te wys in hoe jy praat. Jy kan nie sout en lig wees as jy soos die wêreld praat nie.
Efesiërs 5:4 kan nie duideliker hieroor wees nie: ‘Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle.’ En ook Kolossense 3:8: ‘Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie.’
Miskien sal ons versigtiger wees met wat ons sê, as ons besef hoeveel krag daar in woorde is.
Daar is toesprake wat die wêreld verander het. Dink byvoorbeeld aan Martin Luther King se “I have a dream” op 28 Augustus 1963, wat ’n prominente rol gespeel het in die beëindiging van rassisme in die VSA. In teenstelling hiermee, het Adolf Hitler met sy gladde mond en slinkse propaganda dit reggekry om ’n hele nasie te breinspoel. Van sy invloed word gesê: “That what distinguished the Third Reich from all previous dictatorships was its use of all the means of communication to sustain itself and to deprive its objects of the power of independent thought.” [i]
Spreuke 18:21 sê nie verniet dat die tong mag oor lewe en dood het nie.
Jou woorde sal dalk nie die wêreld verander nie, maar dit kan vir die een met wie jy praat die verskil tussen lewe en dood beteken. ‘Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê.’ Spreuke 12:18
In ’n tyd waarin dit nou makliker is as wat dit nog ooit was om jou mening te lig, het ons as volgelinge van Christus ’n baie groot verantwoordelikheid – en ook ’n baie groot geleentheid.
Kom ons gebruik dit tot eer van God en tot seën vir ons aanhoorders.
[i] https://slate.com/news-and-politics/2017/03/how-nazi-propaganda-encouraged-the-masses-to-co-produce-a-false-reality.html
Geskryf deur Madeleine Venter