Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Verlede week doen ek ʼn begrafnis van iemand wat vir my soos ʼn ouma was. Begrafnisse is vir my moeilik – ʼn bietjie soos mosterd na die maal.

Die persoon is nie meer hier nie, maar ons huil en is hartseer en ja soms kry ons onsself erg jammer. Waarom is ons nou eintlik hartseer? Kom die vraag vir seker die duisendste keer by my op … Ek is al ʼn rukkie besig met hierdie kwessie in my binnekamer. Ons is geneig om meer van die dood van ʼn geliefde te maak meer as oor die persoon wat nie meer hier is nie.

Ek lees in die Burger van ʼn vyfjarige dogtertjie wat in Kaapstad voor haar klein sussie geskiet is. Sy sterf in haar mamma se arms en haar laaste woorde is dat hulle moet kyk na haar klein sussie en dat hulle haar moet beskerm. My trane drup op die koerant omdat sy net so oud soos Jan-Hendrik is, my geliefde middelkind. Skelm vee ek vinnig my trane af sodat ander in die restaurant nie my gegrens sien nie.

Hoekom huil ek?

Ek het haar nie eers geken nie. Ek ken nie haar ma nie, ook nie haar pa nie, maar ek huil. Ek het seer. Ek dink aan my vriende en familie wat nie meer op aarde beweeg nie. Ek begin myself jammer kry dat ek soveel pyn al moes ervaar in my lewe. Die groet van vriende en familie voel meteens erg onregverdig en die koffie proe sommer bitter in my mond.

Terug in my kantoor, sit ek my oorfone met musiek op en emosioneel begin ek vir Jan-Hendrik ʼn brief skryf. Ek skryf oor sy lewe en die vreugde wat hy vir ons bring. Sy menswees en sy “andersheid”, want hy is anders!

Ek lees ʼn Maori woord raak:

Takiwatanga wat beteken “in his/her own time and place”.

Die musiek van ʼn pa en seun begin speel – ʼn lied oor pyn en seer wat hulle saam geskryf het en sing. Die titel van die lied is “We are the lucky ones”. Dit gaan oor die dood, oor die feit dat almal gevat word, party baie vroeër as ander en dat ons wat agterbly eintlik die “lucky ones” is, want ons het nog tyd, ons is nog hier!

Put your hand in mine, stay here by my side.
We are the lucky ones
Only just begun, others leave to young
We are the lucky ones.”

Terug na ouma se begrafnis en die vyfjarige meisie. Ek besef waarom ek huil. Iets kom binne my los en nou stroom die trane sommer want vir die eerste keer in 45 jaar weet ek waarom ek met die afsterwe van ʼn mens huil. Hetsy hy/sy ʼn geliefde is of ʼn vreemdeling. Dit het 45 jaar gevat om te besef – die antwoord is nie so eenvoudig as wat ek gereken het nie.

Elke keer as ek by ʼn graf staan, besef ek hoe gelukkig ek is om steeds hier te kan wees. Diep binne my menswees, word dieselfde vrae keer op keer aan myself gevra. Wat maak jy met jou lewe? Verdien jy om nog hier te wees? Wat beteken jou hierwees vir ander mense wat ook nog hier is?

Ons huil oor ons eie onvermoë om elke oomblik van die dag en nag voluit te lewe. Ons huil want ons weet dat ons volgende kan wees, want ons is oor een ding in hierdie lewe doodseker en dit is dat ons elkeen gaan sterf. Ons het nie ʼn idee wanneer nie, maar ons weet ons gaan sterf. Die verlies van ʼn geliefde of ʼn vyfjarige kind sit hierdie feit weer op die voorgrond.

Put your hand in mine, stay by my side
We are the lucky ones, just begun …

Jan-Hendrik is iemand anders het ek gesê. Hy is anders want hy leer my om te leef, te koester, om te gee en liefde in oorvloed te leef. Hy is Takiwatanga …

Hy doen alles op sy tyd en plek.

Ons moet mekaar uitdaag om dinge meer op ons eie tyd en plek te doen. Hou op om die heeltyd te leef soos ander leef. Vervulling kom vir elkeen op sy/haar tyd en plek. Die Prediker het dit al gesnap: “Daar is ʼn tyd en plek vir alles.”

Hou op wag vir ander. Doen wat jy droom, doen wat jy glo, maar die belangrikste is dat ons elkeen sal doen wat ons is! Doen jouself! Wanneer ons dit regkry om te doen wat ons is – sal oop grafte ander betekenis kry. Dit is dan wat ʼn oop graf ʼn fees gaan word, ʼn fees oor die lewe wat nie meer hier is nie en nie ʼn hunkering na wie ek eintlik wil wees nie. Ons vier fees oor die lewe wat nou op ʼn ander tyd en plek is.

Al wat ek nog kan sê is:

Be the lucky one, live the life of the lucky one. Live this lucky life in your own time and place. Embrace Takiwatanga.

 

Wynand Olivier